Jaco Versfeld is ‘n bekende Romanza-skrywer. Soos vantevore, stel hy nie teleur nie. Hy ken en bemeester die genre wat hoë eise stel in terme van woordbeperking, plot en die opbou van spanning tot aan die einde. Die verhaal begin midde-in die spanning. Waarom moet juis Yolandi die onderhoud voer en nie haar suster wat vantevore by Kruger Wolmarans betrokke was nie? Reeds gou kon ek as leser nie vinnig genoeg agter die kap van hierdie byl kom nie en het die spanning sienderoë verdiep deurdat al hoe meer vrae en moordverdagtes opduik.
Tegnies is die roman vaardig geskryf. Versfeld bly in beheer van die verhaal. Hoewel nuwe verhaallyne geleidelik ontplooi word, word dit glad geïntegreer, dra dit by tot die ontknoping en lei dit nie die aandag van die hoofplot af nie. Die skrywer se taalgebruik is buitengewoon suiwer – soms het ek gevoel dalk té bewustelik korrek – maar móói Afrikaans!
Hierdie is die ideale boek vir ʼn dag langs die swembad of op vakansie. Lesers sal kan identifiseer met die hoofkarakters se onsekerhede en waardes, maar ook met die bekende stadsmilieu en die werking van die polisiediens. Daar is “goeie” karakters en “bose” karakters, maar wie nou eintlik wie is, moet wag tot die einde. Spanningsvolle tonele loop dikwels uit op stomende liefdestonele wat op hulle beurt weer tot meer spanning aanleiding gee. Hierdie roman bied alles wat die leser van ʼn goeie liefdesverhaal met ʼn skoot misdaad, humor en verrassings kan verwag.
© Marlies Taljard
Titel: Yolandi van Rooibos
Outeur: Jaco Versfeld
Uitgewer: LAPA, 2025


Reviews
There are no reviews yet.