Twee vertellers tree op – Kewane en haar dogter Kelelo, moeder en dogter, twee getraumatiseerde vroue wat mekaar eenvoudig nie kan vind nie. Kelelo word ontheem en van haar plaasskool na ’n stadskool gestuur waar sy slegs Engels mag praat en verbaal deur die nonne geteister word omdat sy die uitspraak en woordeskat nie bemeester nie. Uiteindelik hou sy op praat.
Kewane, wat op jeugdige ouderdom tronkstraf uitdien en as ’n held in haar gemeenskap beskou word, ly aan ernstige depressie wat diep letsels laat op haar huweliksmaat en haar kinders. Op skool word te veel eise aan die kinders gestel omdat hulle moeder beroemd is. Kewane se emosionele afwesigheid plaas die verantwoordelikheid vir die kinders en huishouding op ander familielede.
Die gemeenskap wat hier uit die verf kom, is eerder ’n hegte familie as losstaande individue. As ’n krisis een familie tref, spring almal in met hulp, geld, kos, vervoer, troos en versorging. Dertig jaar later is dit ondenkbaar dat sulke brutaliteit ooit in ons land kon gebeur het. Gemeenskappe sukkel steeds om die trauma te verwerk wat oor geslagte heen strek en steeds die toekoms van miljoene mense beïnvloed.
Molope skryf onderhoudend en inspirerend. Hoewel die boek in verskeie hoofstukke ingedeel is, word die verhaal fragmentaries vertel en ontplooi die storielyn stadig en aandagtig, filosofies selfs, met talryke terugflitse.
Hierdie is ’n roman wat insig verskaf in die lewe van Swart stedelike gemeenskappe, veral ten tye van apartheid. Dit vertel die gekompliseerde verhaal van een familie wat metafories ’n groot deel van die Swart stedelike bevolking verteenwoordig. Dit is ’n aangrypende, ontstellende verhaal wat ek sterk aanbeveel en wat my insig geweldig verruim het.
© Marlies Taljard
Titel: We inherit the fire
Outeur: Kagiso Lesego Molope
Uitgewer: Penguin Books, 2026

Reviews
There are no reviews yet.