Die Boekboetiek

,

Wag-‘n bietjie: Stories wat gryp

Hennie van Deventer se 24ste boek is inderdaad ’n boek wat hierdie leser aangegryp het. Van Deventer is een van die mees ervare joernaliste uit die tyd van papierkoerante en was lank die redakteur van Die Volksblad. Sy skryfstyl is – tipies joernalis – op die man af en saaklik, met die gawe om aan te gryp, die essensie van ’n saak raak te sien en die boodskap helder oor te dra. Hierdie is ’n boek waaruit Afrikaanse lesers uit alle agtergronde veel genot sal put.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

 

Die lywige boek (325 ble) is verdeel in 8 afdelings met uiteenlopende temas wat verskeie staaltjies of verhale bevat uit die tyd toe baie van ons nog in doeke was én uit die mees onlangse verlede. Wie sal glo dat president PW Botha op sy tyd die redakteur van Die Volksblad persoonlik per telefoon skakel om hom uit te trap oor ’n berig wat hy geplaas het? Die eerste afdeling van die boek handel juis oor Van Deventer se ervaring as joernalis en koerantredakteur. Ons verneem byvoorbeeld dat sowat 100 voormalige redaksielede van Die Volksblad, onder andere Antjie Krog en haar ma Dot Serfontein, saam ongeveer 1 000 boeke gelubliseer het. Ons lees van die scoops in die niggie-moord wat vandag weer opslae maak en kry die eerste foto van die ontmoeting tussen Nelson Mandela en FW de Klerk te sien wat nog nooit vantevore verskyn het nie.

Die tweede afdeling handel oor opspraakwekkende moorde en die stories daaragter: passiemoorde, liefdesmoorde, haatmisdade … Dan kom die stories uit die persgalery en bekende politieke figure onder die soeklig – dr. Andries Treurnicht, Piet Koornhof en sy huwelik “oor die kleurgrens”, die gevatte minister Hendrik Schoeman (wat na ’n besoek aan Orania sê daar gaan bokkerol aan, die enigste prostituut is nog ’n virgin), Barend du Plessis die kranige koeksisterbakker, Johan Vorster met sy vlymskerp antwoorde en die jintelman sir De Villiers Graaff. Onder die titel “Mense” is daar hartroerende, skreeusnaakse en skrikwekkende staaltjies. Reise en ’n Halloween-viering in Amerika saam met wyle Hans du Plessis, die ma wat haar dogter ’n klap gee oor sy die dokter as “oom” aanspreek, Jamie Uys en Boet Troskie van The gods must be crazy-faam se legendariese rykdom en vrygewigheid word beskryf en die vername gaste wat Boet aan huis ontvang het, asook die geniale koerantopskrif nadat primaballerina Margot Fonteyn in die Bloemfonteinse stadsaal onder blomme toegegooi is: “’n Blom-Fonteyn”.

Verskeie afdelings van die boek word gewy aan staaltjies en belewenisse uit die skrywer se eie lewe. Die laaste afdeling heet “’n Bietjie kerk” en hier skryf van Deventer oor sy persoonlike geloofspad, aangrypende oomblikke wat hy beleef het in onder andere die NG Kerk Krugerwildtuin, hoe kerkdienste lank gelede was, humoristiese “kerk-staaltjies”, geliefde predikante en hulle boodskappe en hoe Mandela die enigste president geword het wat die Algemene Sinode van die NG Kerk toegespreek het. Toe Mandela inkom, verloor hy sy skoen en Frits Gaum sak op sy knie en trek die skoen aan.

Hierdie is maar ’n lusmaker … Wag-’n- bietjie deur die befaamde Hennie van Deventer gaan jou ure se leesgenot besorg. Die skrywer se vaardige omgang met Afrikaans, sy unieke formuleringsvermoë en sy ryke ervaring wat hy vryelik deel, maak die bestanddele uit van een van die genotvolste boeke wat ek in jare gelees het.

© Marlies Taljard

Titel: Wag-‘n bietjie: Stories wat gryp

Outeur: Hennie van Deventer

Uitgewer: Naledi, 2025

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Wag-‘n bietjie: Stories wat gryp”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top