Die Boekboetiek

,

Volbloedliefde

‘n Vroulike rofstoeier en ‘n manlike operasanger – kan so verhouding werk? As dit by uiteenlopende prototipes kom, is dié twee protagoniste die absolute uiterstes van mekaar.

Lees meer in die beskrywing hier onder…

Elders op die Internet vertel die skrywer, Marilé (of Alta) Cloete dat haar nege-en-dertigste romanse, Volbloedliefde, nou op die rakke is. Cloete het begin romanses skryf om die leë nessie-sindroom, waaraan sy gely het, te kortwiek, en sedertdien is daar geen keer aan haar nie.

Alicia van Aarde, woonagtig in Amsterdam, het haar loopbaan as bibliotekaresse agter gelaat en ‘n professionele rofstoeier geword. Natuurlik in die geheim, want dit sou nie haar moeder se goedkeuring wegdra nie…

Die boek begin met ‘n skokkende onthulling van Ma Elizabeth: Alicia het ‘n halfbroer waarvan sy nie geweet het nie, ‘n jarelange tergende geheim wat haar ma met haar saamgedra het. En wat meer is, is dat Ma Elizabeth die pa van haar kind (én haar jeugliefde) opgespoor het, en dat hulle in Suid-Afrika gaan trou.

En skielik swaai Alicia se statiese familiedinamiek na ‘n amper stormagtige een, want sy moet haar uitgebreide familie ontmoet…haar kleinboet, Alex, is smoorverlief op Lexi, Ruben Retief se jonger sussie. Toe iemand haar woonplek se klokkie lui, is Alicia oortuig dis ‘n onheilstyding oor haar ma.

Niks het haar egter voorberei op die sjarmante en aantreklike bekende Europese operasanger, Ruben Retief, wat ook in Amsterdam woon nie. Al die mites wat sy gekoester het oor operasterre, is summier die nek ingeslaan.

En insgelyks het niks vir Ruben voorberei op die harde wêreld van rofstoei vir vroue nie. Hy het na een van Alicia se gevegte gaan kyk, waartydens sy haar enkel as gevolg van haar opponent se vuilspel gebreek het. Skielik is die tawwe sportvrou hulpeloos, oorgelewer aan weke se pyn en die nare werklikheid van haar rolstoel en krukke – ‘n reuse frustrasie!

Die tergende vraag is: wat het Alicia en Ruben in gemeen, en waarom ontferm hy hom so oor haar? Een aand gaan kyk sy na ‘n operavertoning met Ruben en sy vriend Hans in die hoofrolle, en…

Nee; ek wil nie die storie weggee nie. Dan is daar nog Alicia se ma se troue met die misterieuse Danny De Villiers (en wie is Danielle DeVille?) En hoe skakel die karakters met die ‘werklike’ romanse, Volbloedliefde?

Dan sluimer Sabrina, ‘n skaduwee uit Ruben se verlede, nog steeds iewers, en Ruben se moeder, Ina, herinner Alicia kort-kort aan dié pynlike geheim.

Cloete slaag daarin om ‘n uiters genietlike romanse te skep; haar skryfstyl is vloeiend, en kennelik die bloudruk van ‘n bestendige en ervare skrywershand. Sy slaag daarin om heelwat meer as die gemiddelde kwota karakters binne die bestek van dié verhaal te stuur, sonder dat hulle in die milieukleding verdwyn. En só slaag sy daarin om ook ‘n komplekse familiedinamiek in die boek te laat ontvou – en dat die liefde uiteindelik alles oorwin, ook die skynbaar onmoontlike.

Ek het die boek in een sitting deurgelees. Koop dit gerus en bederf jouself met ‘n wegbreeknaweek vir een – met Volbloedliefde.

 

© Nini Bennett-Moll

Titel: Volbloedliefde

Outeur: Marilé Cloete

Uitgewer: LAPA 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Volbloedliefde”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top