Ek was aangenaam verras nadat ek Eleanor Lombard se Vasbyt Vyf: Die renosterhelde gelees het. Want dit is baie moeilik om ‘n genietlike en meesleurende jeugverhaal te skryf as jy moet kompeteer met stromingsreekse, sosiale media, rekenaarspeletjies en films.
Hierdie is Boek 2 in die Vasbyt Vyf-reeks, en die verhaal spil rondom Jaco, Karli, Handré, Lerato en Bella, wat vir die Julie-vakansie op Oom Phillip se wildsplaas gaan kuier. In die eerste boek, Vasbyt Vyf: die ontvoering het die vyftal reeds avontuur gesmaak. Die wyse waarop Lombard sosio-politieke kwessies tematies op ‘n behendige wyse hanteer, beïndruk. Nêrens is die verhaal perdanties nie – inteendeel: dit lees werklikheidsgetrou en vermaaklik. Die vyftal wil na rotsgravures gaan kyk, maar kom agter dat hulle verdwaal het en al in die rondte loop…
Met ‘n kompas wat voete kry en ‘n verkyker wat breek, is hulle aangewese op oorlewingskunsies. Hulle bereik die sandbank van ‘n rivier, maar moet vuur maak, want gerugte van ‘n luiperd doen die rondte. Die maats se kos raak ook min, en hulle trotseer allerlei gevare en uitdagings. ‘n Skoot klap in die nagstilte, en hulle kom op die liggaam van ‘n dooie renoster met ‘n uitgekapte tand af. En die arme renosterkalfie…
Alhoewel die Vyftal ‘n vermoede het wie een van die renosterstropers is, besef hulle ook dat die grootmense en polisie nie noodwendig vyf kinders gaan glo nie. Hoe nou gemaak – hoe gaan hulle die stropers op heterdaad betrap? Nadat ‘n giroskoop hulle opgespoor het, begin hulle koppe bymekaar sit om die skelms vas te keer. Maar dit is lewensgevaarlik…
As avontuurverhaal is die boek uit die boonste rakke. Die skrywer skep ‘n ekologiese bewussyn rakende renosterstropery en maak jong lesers só bewus van hierdie euwels. Ek was beïndruk oor hoe seepglad die verhaal verloop en die slim wyse waarop die outeur al haar leidrade uiteindelik byeen bring. Die verhaal sorg vir talle naelbytoomblikke – maar die twaalf- en dertienjarige helde seëvier uiteindelik.
Op soek na ‘n lekkerleesboek of bederf vir jou kind? Bestel dié jeugverhaal dadelik.
© Nini Bennett-Moll
Titel: Vasbyt Vyf: Boek 2 – die renosterhelde
Outeur: Eleanor Lombard
Uitgewer: Lapa, 2026


Reviews
There are no reviews yet.