In C’est la vie skryf sy oor haar Franse kasteel wat sy in ’n gastehuis probeer omskep, Net mooi fine handel oor die verwerking van verskeie groot verliese in haar lewe, en in Vandagsedag skryf van Reenen oor haar lewe onder die radar, weg van die openbare oog.
’n Meevallertjie sorg dat Lanie weer op haar voete land en naby Hermanus ’n ou, verwaarloosde huis met liefde en fokus op detail restoureer. Maar weer slaan die noodlot toe! Sy verloor in dié proses ook haar skrywersnotas en besluit dat sy – voordat sy vergeet – alles moet neerskryf.
Hierdie is dan die verslag van die klein en groot lief en leed in haar lewe, soos altyd met groot insig, deernis en beskeidenheid in aantreklike Afrikaans aangebied.
Ook in gaar eerste twee boeke skryf van Reenen uitgebreid oor binnenshuise versiering en beskryf sy in besonderhede die teksture, lappe, ontwerpe en kleure wat sy vir elke vertrek kies. Sy is immers ’n binnenshuise versierder van formaat!
Ons lees ook hoe die ou huis op die platteland nuut ontwerp word deur ’n kranige argitek, hoe sy beplan om self in die boonste beskeie soldervertrek te woon en die onderste deel te verhuur. Sonder planne is van Reenen nooit nie.
As die laaste boek in haar reeks van drie is dit die kulminasie van ’n lewe van kreatiwiteit, waagmoed, swaarkry, weer opstaan en weer begin. Depressie is die skrywer se gedurige metgesel op haar lewenspad, maar sy skroom nie om die medikasie te neem wat haar weer lewensmoed gee nie. Haar kinders is nou groot – die seun oorsee, maar die dogters naby. Die verhouding met haar kinders is nou ontspanne en innig. Hulle pas mekaar op, bemoedig en beskerm mekaar en praat mekaar moed in.
Ook hierdie boek is ’n móét as mens die vorige twee boeke gelees het. Dit is deel van ’n uitgebreide memoir van ’n intens geleefde lewe, van menslike lief en leed, wanhoop, vergifnis, hoop en troos – ’n verhaal waarmee enige mens kan identifiseer, geskryf in lenige, eenvoudige maar treffende taal. Dit kan met reg “Die boek van Eenvoud en Aflegging” genoem word.
© Marlies Taljard
Titel: Vandagsedag
Outeur: Lanie van Reenen
Uitgewer: Naledi, 2025


Reviews
There are no reviews yet.