Die Boekboetiek

,

Valskermbataljon – Verhale

As jy die maroen baret en die goue vlerkies mag dra, is jy deel van ʼn prestige-eenheid van top-gekeurde en top-opgeleide soldate – dan is jy ʼn parabat. Tussen 12 000 en 15 000 valskermsoldate is tussen 1961 en 1994 in Bloemfontein opgelei. Soldate van 1 Valskermbataljon het in dié tyd aan ongeveer 80 operasies deelgeneem en 44 lede het in die sogenaamde Bosoorlog gesneuwel.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

 

Hoewel Mike Bolhuis wat die verhale vir die bundel Valskermbataljon versamel het meer bekend is as privaat ondersoeker, was hy ook destyds lid van die bekende 1 Valskermbataljon wat in Bloemfontein gestasioneer was. In die Voorwoord skryf Bolhuis dat daar reeds baie geskryf is oor die valskermsoldate, maar dat daar steeds ʼn behoefte is aan meer perspektiewe van mense wat hulle eie persoonlike belewenisse van die oorlog deel. Dit is dan die doel van hierdie boek met ongeveer 80 outentieke verhale, gepubliseer in die woorde van die skrywer van wie dit ontvang is. Sommiges korter as ʼn bladsy, ander volledig en aangrypend vertel.

Die boek Valskermbataljon is sowel ʼn manier om ʼn stem te gee aan soldate wie se kranige dade, ontberings, vrees, woede en dood tans min of geen erkenning geniet nie. Dit is ook ‘n belangrike historiese dokument wat bewaar moet word. Die boek dien as ʼn herinneringsdokument vir diegene wat die SA-Weermag eerstehands beleef het en as ʼn dokument vir die nageslag vir wie die lewe in die Weermag vandag nie veel meer as ʼn mite is nie. Enersyds lees ons van die “lekker gevoel as die wind jou slaan en jy daardie ruk voel soos die valskerm oopgaan.” Andersyds beleef ons saam met medesoldate die dood van 12 parabats wat afgeskiet is. Ons lees van die harde, byna onmenslike opleiding wat veral valskermsoldate ontvang het, van die opwinding én vrees wanneer jy in die deur staan en moet spring. Ons lees van beserings tydens landing, van soldate wat bo in ʼn  boom vassit met valskerm en al, van weke op rat packs leef, van AWOL en liggaamsoefeninge met Swart Maria pale, van konfrontasie met die vyand en verskriklike beserings in die bos. ʼn Boek wat vandag se jeug beslis kan lees sodat hulle weet waar hulle oupas vandaan kom!

As ʼn primêre bron van ʼn belangrike tyd in die SA geskiedenis kan ʼn boek soos Valskermbataljon nie onderskat word nie. Moderne geskiedskrywing neem immers die kleingeskiedenisse van enkelmense en gemeenskappe besonder ernstig op.

 

© Marlies Taljard

Titel: Valskermbataljon – Verhale

Outeur: Mike Bolhuis (samesteller)

Uitgewer: Naledi, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Valskermbataljon – Verhale”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top