Die boek beslaan byna 200 bladsye en is verdeel in 3 afsonderlike dele met eindnotas. Die inleidende deel, “The thinking component: How the Boks see themselves”, handel oor die persepsie wat ʼn span van hulself het en hoe ondersteuners dié span beleef. Die skrywer neem hier die Springbok-rugbyspan wat die 1995-Wêreldbeker gewen het en Bafana Bafana wat in 1996 die Afrika Nasiesbeker gewen het, as voorbeeld. Die gesegde “ʼn gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees” kan met reg as die kern van hierdie deel van die boek beskou word. Die basiese beginsels van gesond wees kan gevind word in hoe die span hulleself sien, hoe hulle mekaar behandel en hoe hulle dinge doen.
Deel 2, “The people components: How the Boks treat each other”, handel oor vertroue in mekaar en in onsself. Dit is ook in die besigheidswêreld een van die belangrikste aspekte. Waar vertroue ontbreek, kan geen spangees opgebou word nie. Vertroue in leiers en medespelers/kollegas is noodsaaklik om ʼn gevoel van veiligheid en geborgenheid te skep: hoe ons reageer, die stemtoon waarin ons reageer, ons liggaamstaal en die manier waarop ons na ander se menings luister, is kardinaal vir goeie spangees. “Vertroue” impliseer ook ʼn veilige omgewing waarin kritiek gelewer kan word en die wyse waarop ander op dié kritiek reageer. Een van die kernaspekte van vertroue is om nie onnodig die blaam te verskuif of individue te blameer vir foute wat gemaak is nie – spanwerk beteken dat ons mekaar ondersteun en vir mekaar instaan. Die hoofstuk fokus veral op die belangrike impak wat mense in leierskapsposisies op die res van die span het. As leiers ʼn toksiese omgewing skep, is sukses van die baan.
Die laaste afdeling van die boek, “The execution components: How the Boks do things”, fokus op die manier waarop die Bokke dinge aanpak en doen. Dit is belangrik om te bepaal watter metode vir jou en jou span werk, om ʼn doel voor oë te hê waarheen die span werk en hoe om sinvol voor te berei om dié doel te bereik. As elke speler of deelnemer presies weet wat sy/haar doel in die span is en hoe dié doel die span se einddoel behoort te beïnvloed, kan gereken word met sukses. Dit kom daarop neer dat elke spanlid sy/haar eie laste dra, maar ook die span se beste belange op die hart dra – én hoe die span elke individu ondersteun en bemagtig.
Hierdie is ʼn boek wat nie net op rugbyspelers en -afrigters gerig is nie, maar ook op die besigheidswêreld. Enige iemand wat sukses wil behaal in die lewe sal besondere baat vind by die professionele advies van bekende mentors soos PJ Claassen, Jacques Nienaber, Steven Kitshoff, Schalk Brits en Francois Louw.
© Marlies Taljard
Titel: The Bok Way: Unlocking the Springbok’s secrets to performance, culture and success in business
Outeur: PJ Claasen
Penguin Books, 2026


Reviews
There are no reviews yet.