Die grootste deel van die vertelling word gewy aan ʼn besoek van Johann Lodewyk Marais aan Botswana. Tipies JL Marais, word aandag gewy aan klein besonderhede, die beplanning van die reis, waaroor die drie reisigers gesels het en veral aan die landskap, voëls, diere en plante van die streek. Alles word deeglik en wetenskaplik gedokumenteer. Dis ʼn reis oor 10 dae in ʼn enkelkajuit Toyota Raider met 3 mans voorin. Hulle slaap die eerste nag in die Limpopo River Lodge in die Tuli-blok. Van daar na Francistown, Nata, die woude van Pandamatenga, Kasane, die Kubu-eiland, die Khama Rhino Sanctuary en dan huis toe. Die kaart van Botswana en die potloodsketse van Christili Muller voeg waarde aan die boek toe, asook die voorblad wat die leser ʼn idee gee van die Botswana-landskap.
Hoewel lesers hierdie boek primêr sal geniet as reisboek en die fyn waarneminge van ʼn natuurkenner, geskiedkundige en kenner van die streek, het die onderliggende narratief my gefassineer. Twee van die “manne” ken mekaar reeds, maar die skrywer ken een van hulle glad nie en die ander een blykbaar nie baie goed nie. Gou begin dit blyk dat die wyse waarop die ander manne dinge doen, die skrywer irriteer. Aanvanklik gesels hy baie, maar soos die dae verloop, word hy al hoe stiller, word hy soms nie by die geselskap of by uitstappies betrek nie. Eers heel aan die einde erken hy dat dit vir hom beter is om alleen te reis “waar ʼn mens nie aan die grille en nukke van veral onervare of dikwels selfbehepte medereisigers onderwerp wil wees nie” en sal hy nie maklik weer een van die boys wil wees nie.
Hierdie fyn karakterisering wat deurgaans slegs as suggestie in die vertelling teenwoordig is, maak van dié reisbeskrywing iets besonders wat literêre waarde betref.
© Marlies Taljard
Titel: Stormlantern: ʼn reisboek oor Botswana
Outeurs: Johann Lodewyk Marais met Christili Muller
Turksvy publikasies 2024


Reviews
There are no reviews yet.