Die Boekboetiek

Stories vir die siel: Inspirerende kortverhale

Kortverhale wat aangryp.

Stories vir die siel is ʼn bundel kortverhale wat deur LAPA Uitgewers saamgestel is uit bydraes wat hulle ontvang het vir die LUCA-kortverhaalkompetisie waardeur aspirantskrywers blootstelling kon kry. Enkele ervare kortverhaalskrywers is ook vir bydraes gevra.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Die bundel bevat 37 verhale wat hoop en inspirasie gee deur middel van ʼn geestelik gefundeerde boodskap. Vir die leser wat elke dag een verhaal wil lees as ʼn oordenking, is daar genoeg stof vir 5 weke. Wanneer mens ʼn kortverhaal moet evalueer, is ons al van skooltyd geleer dat eenheid van karakters, gebeure, ruimte en tyd belangrik is. Wat beteken dié teoretiese konsepte? Dit beteken maar eenvoudig dat die skrywer van ʼn kortverhaal konsentreer op een enkele hoofkarakter en nie te veel newekarakters in die storie inskryf nie; dat ʼn enkele “storie” vertel word sonder om te veel van die basiese gebeure af te wyk; dat die ruimte of plek nie te dikwels verwissel word nie en indien wel, dat dit noodsaaklik is vir die verloop van die verhaal; en laastens dat die tydsverloop funksioneel is en nie te dikwels “rondspring” tussen verlede, hede en toekoms nie. Natuurlik is daar letterlik duisende ander kriteria.

Oor die algemeen voldoen die kortverhale wat in Stories vir die siel opgeneem is, aan dié “vereistes”. Uit die aard van die saak het die gesoute skrywers se verhale uitgestaan. Die verhaal wat my die meeste beïndruk het, is Jeanette Ferreira se “Dis ontsaglik cool van tannie Antoinette”. Die verhaal handel oor die Laeveldse ervaring van Kersfees deur ʼn Belgiese vrou wat met ʼn Laevelder getroud is. Sy verlang terug na die Europese Kerstradisie en vergelyk die Suid-Afrikaanse omstandighede, gebruike en haar gaste op die plaas met haar komvandaan. Die einde kom as ʼn verrassing wanneer die lastige, luidrugtige kinders haar dag “maak”. Die verhaal word slim vertel in Ferreira se unieke vertelstem en beïndruk deur die subtiele opbouende tema sonder om prekerig te raak. Ook Jeanette Stals se Meester se besluit is ʼn besondere verhaal met ʼn hond as hoofkarakter wat sy “ounooi” oortuig om twee verwaarloosde kinders in te neem. Alexa Steyn se twee verhale Najaarsblare en Vertroue staan eweneens uit. Ander skrywers wie se verhale beïndruk het, is onder andere Elsabé Fouché, Arther Belcher, Helene Pretorius, Eliza Niewoudt, Ernalize du Toit, Jacqueline Schmahl, Jaco Versfeld, Maretha Maartens, Adéle Schutte en Ansie Nel.

Natuurlik kan ek in ʼn kort bespreking nie alle goeie verhale uitlig nie – daar is genoeg om die boek die moeite werd te maak om aan te skaf, veral as ʼn geskenk vir ʼn vriendin of ʼn dogter.

© Marlies Taljard

Titel: Stories vir die siel: Inspirerende kortverhale
Saamgestel deur LAPA Uitgewers, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Stories vir die siel: Inspirerende kortverhale”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top