Dit is ‘n klankryke narratief wat jong kinders sal geniet. Die vertelstyl is vloeiend en het ingebedde gesegdes wat deur kinders onthou sal word. Tipiese idiome van die Namas en Damaras word ingesluit.
Die stories het opvoedkundige waarde deurdat hulle respek vir medemense en die natuur in al sy fasette beklemtoon. Trots vir eie identiteit is een van die belangrikste temas van al die verhale. So ook die bemagtiging van vroue. Vroue is diegene wat krag en mag het en die gawe van vernuwing. Verskeie sterk vroulike karakters en wyse mense verskyn in die stories.
Die verhale kom beslis vanuit ʼn oeroue storieskat waarin vroue diegene was wat (bonatuurlike) krag gehad het. Omdat dit argetipiese stories is, het hulle universele waarde en alle mense van die land kan hulle daarmee identifiseer. Omdat hulle nou verwant is aan sprokies, is hulle veral geskik vir kinders. Die element van ʼn verontregte persoon wat uiteindelik bemagtig word en seëvier oor slegte omstandighede, is iets wat kinders se verbeelding aangryp en hulle motiveer om te droom.
Ek wil elke ouer aanraai om hierdie boek te koop. Lees dit saans vir jou kind en bou ʼn band van gedeelde verwondering in eenvoudige verhale waarin die goeie oor die bose triomfeer.
@ Marlies Taljard
Titel: Stories in die wind
Outeur: Deidre Jantjies, David Andrew
Uitgewer: Tafelberg 2022


Reviews
There are no reviews yet.