In hierdie drama word ’n ou, verwikkelde familiedrama oopgevlek. Versoening is nie meer moontlik nie, aangesien twee karakters reeds deur selfmoord hulle lewens beëindig het en die oorlewendes in hulle weë verstok geraak het. Gert en Louw bly as enigste lewende familielede oor om Schalkie te begrawe – vader en seun wat worstel om sin te maak van ’n verwronge en geteisterde familiegeskiedenis. Hoewel die drama in die hede afspeel, kom terugflitse met Schalkie, die jonger boetie, en Oupa voor, terwyl deurgaans ook na Louw en Schalkie se moeder, Gert se vrou, verwys word.
Die stel word oorheers deur ’n massiewe dooie stinkhoutboom wat figureer as die kollektiewe geheue van die Groenewald-familie en wat by tye weer begin blom. Daar is geen toneelwisselinge nie – die drama speel deurgaans af op ’n kleinhoewe wat verwaarloos voorkom en waar enkele ou motorbande rondlê. Die spel beweeg soomloos van een toneel na die volgende en die enigste twee akteurs speel meer as een rol in verskillende tonele.
Die motoriese moment is die dood van die kleinboet Schalkie. Na nege jaar keer Louw uit die buiteland terug om sy broer se begrafnis by te woon. Die herontmoeting tussen vader en seun lei tot die oopkrap van pynlike en ontstellende herinneringe, verwyte en hartseer. Louw verwyt homself oor sy ma se dood en oor die sielkundige knou wat Schalkie deur Louw se onnadenkende optrede opgedoen het. Hy verwyt sy pa vir die wyse waarop hy homself na die dood van sy vrou onttrek het en die opvoedingsproses aan Louw oorgelaat het. Gert verwyt sy seun dat hom alleen op die plot agtergelaat het en in nege jaar geen kontak gemaak het nie.
Kortom: hierdie drama werp lig op die lot van ’n disfunksionele familie wat deur sielkundige probleme, depressie, geweld, drank en dwelmmisbruik geteister is, waarin die familielede afgestomp geraak het, die generasiegaping onoorbrugbaar geword het en bitter verwyte lei tot die verharding van harte en die onvermoë om te vergewe.
Frank Opperman en Wilhelm van der Walt het die rolle van Louw en Gert, asook Schalkie en Oupa in die Aardklop-produksie vertolk wat uitstekende resensies en vol gehore getrek het. Daar is verskeie video-uittreksels uit dié drama op die Internet beskikbaar waarna lesers gerus kan loer. Hierdie drama moet beslis weer opgevoer word.
© Marlies Taljard
Titel: Stinkhout
Outeur: Philip Rademeyer
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2025


Reviews
There are no reviews yet.