Die Boekboetiek

, ,

Spienekelientjies: Taalmusiek vir kleintjies

Antjie Krog, een van ons mees geliefde en bekroonde digters en skrywers, het met Spienekelientjies weer ’n verrassende en heerlike sprong na die wêreld van die kinderverse gemaak. Hierdie kleurvolle versie- en rymboek is duidelik met groot liefde en ’n fyn oor vir ritme saamgestel. Krog se vorige versiebundels sluit in: Mankepank en ander monsters (1989); Voëls van anderste vere (1992); Fynbosfeetjies (2007) en Vetplantfeetjies (2022).

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Spienekelientjies bevat ou rympies van vroeëre kleuterboeke, veral die gedigte en ryme wat klassiek geword het in W. Versfeld se verwerking van Engelse kleuterverse. ’n Paar van Annie M.G. Schmidt se kinderverse is uit Nederlands vertaal en twee kinderryme uit die bekende Duitse Struwwelpeter is verwerk. Daarby is nuwe inheemse ryme uit tesisse en ou bronne aangevul met ’n hele paar van Mankepank asook die fynbos- vetplantfeetjierympies.

Die bundeltjie bevat vyf afdelings, onderskeidelik met kort en lang ryme en versies wat wissel van speels en lighartig tot sag en vertroostend.

Krog slaag daarin om subtiele temas soos nuuskierigheid, vriendskap, die natuur, en selfs ’n titseltjie vrees (en hoe om dit te oorkom) in te weef sonder om ooit prekerig of swaartillend oor te kom.

Ryme en ritme speel ’n besonder belangrike rol in die intellektuele en verbeeldingsontwikkeling van jong kinders. Deur die herhalende klankpatrone en ritmiese vloei van rympies leer kinders natuurlik klanke, sillabes en die struktuur van taal herken, wat hul fonologiese bewussyn versterk en die grondslag lê vir later lees- en skryfvaardighede. Die voorspelbaarheid van ryme stimuleer kognitiewe prosesse soos geheue, aandag en patroonherkenning, terwyl die ritme kinders help om woorde en sinne makliker te memoriseer en te internaliseer. Op die verbeeldingsvlak wek ryme en ritme ’n gevoel van vreugde en spel, wat kinders aanmoedig om kreatief te dink, nuwe wêrelde te skep en emosies uit te druk deur stories, liedjies en bewegings. Dit bevorder nie net taalontwikkeling nie, maar ook emosionele intelligensie en sosiale vaardighede wanneer kinders saam rym en sing. Kortom, ryme en ritme is kragtige, natuurlike instrumente wat die brein van jong kinders op ’n holistiese wyse stimuleer en hulle help om met vreugde en selfvertroue die wêreld van taal en verbeelding te ontdek.

Die illustrasies deur Roelien Immelman, Willem Samuel en Diek Grobler is helder, warm en vol klein detail wat kinders vir ure lank besig sal hou. Die kombinasie van Krog se woorde en hierdie pragtige grafika maak van Spienekelientjies ’n ware fees vir die oog en oor.

Hierdie is nie net ’n boek nie – dit is ’n kleinood wat ouers en kinders saam kan koester. Spienekelientjies sal beslis lei tot herhaaldelike nagsoentjies, lagbuie en “nog net een keer, asseblief!”-versoeke in Afrikaanse huishoudings. Afgesien van die opvoedkundige waarde en genot van dié boek, is dit een van daardie bêreboeke: as daar ooit koffietafelboeke vir kinders was, was Spienekelientjies beslis een.

© Nini Bennett-Moll

Titel: Spienekelientjies: Taalmusiek vir kleintjies

Samesteller: Antjie Krog

Uitgewer: LAPA, 2026

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Spienekelientjies: Taalmusiek vir kleintjies”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top