Die Boekboetiek

,

Sonnette vind ek absoluut pateties. Speelse verse van Robert Gernhardt, Christian Morgenstern, Joachim Ringelnatz.

Daar word dikwels gesê dat Duitsers geen humorsin het nie. Maar dit is inderwaarheid ’n ou Angel-Saksiese cliché (deels gebore uit oorlogspropaganda en taalverskille), wat nie water hou nie. Duitsers lag baie, geniet satire, woordspelings, absurde humor en politieke kabaret. Vandaar die voorkoms van ’n groot aantal humoristiese gedigte deur Duitstalige digters.

 

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Robert Gernhardt, Christian Morgenstern en Joachim Ringelnatz is seker die drie gewildste 20ste-eeuse Duitse digters van speelse verse. In hierdie vermaaklike bloemlesing, Sonnette vind ek absoluut pateties is hulle gedigte in Afrikaans vertaal, deels met behoud van die rym, ritme, taalspel en humor van die oorspronklike. Barend J. Toerien se vertaling van Morgenstern se gedigte het in 1997 verskyn as Houtjies van die galg (Galgenlieder), en dis interessant om Toerien se vertalings met Schall s’n te vergelyk.

Robert Schall is in Duitsland gebore en het daar grootgeword. Hy studeer aan die Universiteite Karlsruhe (Duitsland) en Kaapstad en is Emeritus Professor in Wiskundige Statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy vertaal GR von Wielligh se Boesmanstories in Duits as Die Sterne sind glühende Kohlen und Asche (2005). Sy vertaling van ʼn bloemlesing uit die werk van die veelbekroonde Duitse digter Jan Wagner verskyn onder die titel Wat ek van klippe weet (Naledi, 2021); dit was op die kortlyste van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk en van die UJ Prize for Literary Translation. Sy versvertaling van Johann Wolfgang von Goethe se drama Faust (Naledi, 2023) was insgelyks op die kortlys van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk. Schall is ’n veeltalige digter en vertaal ook Afrikaanse poësie na Duits, byvoorbeeld Jan Pretorius se ekfrastiese bundel, Stil gesprek (Naledi, 2024) as Stilles Gespräch: Gedichte zu Fotografien von Geo Jooste (Naledi, 2025).

As jy ’n digbundel soek om werklik te geniet, bestel dié een. Ek het die onlangse bekendstelling van Sonnette vind ek absoluut pateties by die historiese Oude Leeskamer bygewoon en daar is heerlik gekorswel, geklets en selfs geswets oor die rym. Schall is net so gevat in lewende lywe as in sy vertalings. En wie ken die domein van rym beter as die gespreksleier, Daniel Hugo?

Die bundeltitel self is ’n vertaling van ’n reël uit ’n gedig van Robert Gernhardt wat ironies genoeg self in die streng sonnetvorm geskryf is.

 

Bronmateriaal vir ’n kritiek

op die bekendste digvorm

van Italiaanse oorsprong

 

Sonnette vind ek absoluut pateties,

so eng, rigied, ag man, eenvoudig shite.

Verbeel jou, iemand iewers sit freneties

en pleeg sonnette – jitte, net die feit,

 

die blote kans, dat een of ander loeder

vandag nog sulke droë stront aanjaag,

kan werklikwaar my hele dag befoeter.

Ek raak skoon gatvol daarvan. En my maag

 

wil draai as sulke opgefokte vreksels

my met hul gek draadtrekkery blokkeer;

boeta, ek pes daai bliksems en hul treksels

 

en snap dit wat die torre motiveer

nooit as te nimmer nie. Maar wát ek weet is:

Sonnette wás en ís en blý pateties.     (15)

 

Robert Schall tref ’n mens as die vertaler-as-triekster. Die rymelaar-as triekster. Hy herinner aan Loki, die taal- en grensoortreder wat op verbluffende wyse klank- en taalreëls buig, van gedaante verander en soms die wind uit die leser se seile neem met ’n sak vol halfryme, vals ryme, die illusie van rym en rymdwang. Rym kan immers ironies, satiries, parodiërend of selfs ontluisterend wees. Schall toor met taal: die herhalings, klankeggo’s, ritmiese patrone, sintaktiese parallelle en die subtiele resonansies tussen woorde wat op die oog af niks met mekaar te make het nie. En klankmatige ooreenkomste is nie altyd ’n waarborg vir harmonie nie. Soms is dit juis die dissonansie tussen klank en betekenis wat die interessantste lesings oplewer.

Die gebruik van rym in ’n gedig is dikwels snaaks, gevat of geestig juis omdat dit ’n speelse spanning skep tussen klank en betekenis. En dit gaan oor meer, veel meer, as ooreenkomste in klank: die betekenis en musikaliteit van ryme moet in die teikentaal ook resoneer. In sommige gedigte ondermyn Schall doelbewus die oorspronklike betekenis van die Duitse gedigte, en skep sodoende nuwe betekenismoontlikhede in die Afrikaanse vertalings.

Op pp. 122-123, “Fisches Nachtgesang” / “Vis se naglied”, fokus Schall volledig op die semiotiese in dié beeldgedig; die oorspronklike vers bestaan uit tekens en strepies, tekens wat die digter dan in die Afrikaans ‘omdraai’ en die strepies vervang met tildes. Sien? Dis óók ’n vertaling!

In sy resensie op Versindaba beweer Daniel Hugo:

 

“Die briljantste vertaling in die boek is myns insiens “Die dag waarop die     verdwy het”. Die titel van Gernhardt se gedig is “Der Tag, an dem das    verschwand”. In die Duitse gedig gaan dit oor die verdwyning van die letter “l”; in die Afrikaanse gedig is dit die “n” wat soek raak – soos reeds uit die titel blyk. Die Afrikaanse herskrywing is heelwat vernuftiger as die oorspronklike:

 

Die dag waarop die      verdwy het –

wat   ‘   gekers va tade!

Die digters, ag, moes ophou dig,

e sit ou op hul hade.

 

Die druk bou op, met digters wat

beoud a asem sak.

Solak die      kort sal hul oder

dié druk heel moontlik kak.

 

Aanvanklik lyk dit vir die leser na geheimtaal met hier en daar iets verstaanbaars, maar sodra hy die sleutel van die vermiste “n” gekry het, begin die pret. Die onwelvoeglike slotwoord blyk dan heel onskuldig “knak” te wees, maar dit bly tog in die geheue vassteek. Die herhaalde woord “druk” dwing die leser onwillekeurig om tog “kak” te lees in plaas van “knak”. Hierdie gedig verskaf my onheilige plesier!”  https://versindaba.co.za/2026/08/19/daniel-hugo-die-domein-van-die-rym/

Inderdaad. Robert Schall as vertaler is nie bloot ’n vernuftige taalbemiddelaar nie, maar ’n medeskeppende digter wat hierdie geestige poësie opnuut laat asemhaal in die teikentaal, Afrikaans. Met ’n fyn oor vir die moontlikhede en robuustheid van taal, span hy ’n hele arsenaal digterlike en taalkundige stylgrepe in en deur hierdie vernuf word die bronteks se betekenis nie as ’n geslote gegewe behandel nie, maar voortdurend op produktiewe wyse uitgedaag, verskuif en verruim. Die vertalings skep sodoende ’n kreatiewe gesprek met die oorspronklike tekste: dit ontgin telkens nuwe semantiese moontlikhede sónder om die gedigte se intellektuele en estetiese integriteit prys te gee. Schall se grootste prestasie lê daarin dat die geestigheid nie bloot behoue bly nie, maar in Afrikaans ’n eie, soms verrassende lewe van hul eie kry.

(C) Nini Bennett-Moll

Titel: Sonnette vind ek absoluut pateties. Speelse verse van Robert Gernhardt, Christian Morgenstern, Joachim Ringelnatz.

Vertaler: Robert Schall

Uitgewer: Naledi, 2026

 

Sonnette vind ek absoluut pateties kan bestel word by www.naledi.co.za

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Sonnette vind ek absoluut pateties. Speelse verse van Robert Gernhardt, Christian Morgenstern, Joachim Ringelnatz.”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top