
In 2019 het Diana my gevra om die voorwoord vir haar digbundel, Die vrede kom later, te skryf. Ek is nederig dankbaar vir die voorreg.
Met groot droefheid en respek bring ons hulde aan dr. Diana Ferrus, die geliefde Suid-Afrikaanse digter, skrywer, verteller en kultuurikoon, wat op 30 Januarie 2026 op 72-jarige ouderdom oorlede is.
Diana Ferrus was veel meer as ’n digter – sy was ’n stem vir die stemloses, ’n brugbouer tussen die verlede en hede en ’n vreeslose aktivis vir geregtigheid, menslikheid en waardigheid. Gebore op 29 Augustus 1953 in Worcester, met gemengde Khoisan- en slawe-afkoms, het sy haar lewe daaraan gewy om stories te vertel wat die wonde van ons geskiedenis aanspreek, en terselfdertyd genesing bring. Sy het in 1999 haar Honneursgraad in vrouestudies verwerf, en het in 2022 ’n eredoktorsgraad van US ontvang.
Haar bekendste gedig, “I’ve Come to Take You Home” (vir Saartjie Baartman), het die loop van die geskiedenis verander. Daardie gedig (ook in Afrikaans) is geskryf tydens haar studies in Utrecht in 1998; die gedig het die aandag van die Franse Senaat getrek en die terugkeer van Baartman se oorskot na Suid-Afrika in 2002 moontlik gemaak – en ’n universele simbool van restitusie en waardigheid vir vernederde mense oraloor geword. Met hierdie gedig het Ferrus die wonde van die verlede oopgeskeur sodat hulle kon genees, en Baartman se oorskot teruggebring huis toe sodat ’n nasie berusting kon vind.
Ferrus het in beide Afrikaans en Engels geskryf, met digbundels soos Ons komvandaan (2006), I’ve Come to Take You Home (2010), en haar kortverhaalbundel, Slaan vir my ’n masker, Vader wat getuig van haar vermoë om die alledaagse, die pynlike en die hoopvolle met dieselfde eerlikheid te verwoord. As ’n people’s poet het sy optredes dwarsoor die land gegee, werkswinkels aangebied, jong skrywers gementor, en altyd daarop aangedring dat stories vertel moet word – want stories bevry. Ferrus het ook internasionale wêreldverhoë met bekendes gedeel tydens kuns- en poësiefeeste. Sy is verskeie kere bekroon as digter, en as musikant het sy in 2006 by die KKNK ’n Kanna vir beste kontemporêre musiek ontvang. Sy was insgelyks betrokke by verskeie dig- en kultuurgroepe, asook skrywersverenigings – hetsy as aktiewe deelnemer of as stigter/inisieerder/fasiliteerder van verskeie poësieprojekte. Ferrus se gedigte en kortverhale is opgeneem in talle versamelbundels, en vertaal in verskeie tale. Sy het in 2007 die vyfde Langenhoven-gedenklesing by die KKNK gelewer. Haar bydrae as performance poet is legendaries, en sy het die slawediskoers deur middel van haar poësie aansienlik verryk. In 2024 is die Diana Ferrus-prys vir poësie ingestel.
Haar stem was warm, direk, soms krities, maar altyd met deernis. Sy het ons herinner dat identiteit nie iets is wat ons verloor het nie, maar iets wat ons kan (terug-)vind, kan herbou, en kan vier. Sy het ons gewys dat poësie nie net mooi woorde is nie, maar ’n daad van verset, liefde, en van herinnering.
Diana Ferrus – of dr Di, Lady Di – se woorde sal bly eggo in klaskamers, in gemeenskappe en in die harte van almal wat sy aangeraak het.
Rus sag, geliefde digter. Jou nalatenskap leef vir ewig.
Met innige meegevoel aan almal wat Diana Ferrus en haar woorde liefgehad het.
2
Voorwoord
Die vrede kom later
In Diana Ferrus se digbundel, Die vrede kom later, word daar ’n hele aantal temas aangespreek. Die vertrekpunt en spil van die verse is ’n vader wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het – ’n interessante en amper vergete stuk geskiedenis van die Hertzog-/Smuts-era waartydens Unie-troepe gestuur is om te gaan veg en geneem is as krygsgevangenes in Tobroek. Ferrus se fokus val op die miskende bruin soldaat wat terugkeer as oorlogsheld; stukkend, geteister deur post-traumatiese stressindroom en alkoholisme (soos byvoorbeeld in “1983-1987: ’n tweede kans”), maar nooit erkenning van sy landgnote (of elders) ontvang het nie. Dis ’n kosbare en nagelate geskiedenis wat momentum kry – en wat ook deur die Mandela-tydvak bly vra vir vrede (“Op pad na Stalag VIII C”). Die smagting na hierdie vrede is naas ’n biografiese inventaris ’n soeke na berusting te midde van nimmereindigende en immerveranderende magsideologieë waarvan die vernietigende uitwerking nog vir geslagte later waarneembaar is. Ook sny die verse deur die hart van die slawediskoers: só open die bundel met “Rosie”, ’n aangrypende vers oor ’n matriarg wat metafories as ’n aristokratiese figuur onder die slawemense gesien kan word. Rosie speel ook terug in ander verse; die bundel is bevolk met karakters, byna soos ’n narratief in die kleine, en Ferrus neem die leser op ’n reis deur Europa met sy verwoesting, sy slagvelde, sy angs, en sy uitkringende letsels. Simbole, byvoorbeeld ’n jas en houtkis word op ’n besondere wyse ingespan om die herinnering aan die vader lewend te hou.
Die digter vermoei nie die leser met oorbodige en swaarwigtige geskiedkundige detail nie – dis ‘ingebou’ in die narratief, inherent deel van die bou en verhaallyn van die bundel. Dit is uitdagend om ’n hele bundel as narratief uit te bou, en hierin slaag Ferrus. As geheel beweeg die verse netjies in balans en ontknoop die ‘storie’ in terugflitse wat die spreker se vader beleef het. In tandem met hierdie terugflitse onderneem die spreker-digter ook geografiese reise wat versoening moet bring ná baie jare. En hierdie vrede kom in die gedaante van verse, woorde, ’n opgaaf besinnings vir die spreker se afgestorwe familie en vriende, maar ook vir die lewendes wat agterbly in 2018 en steeds probeer sin maak uit die pyn van gister. Deur ’n proses van katarsis kyk die spreker as’t ware oor die vader se skouer, probeer beleef wat hy beleef het, maar bowenal – sy probeer verstaan. Soos met enige goeie narratief wissel Ferrus haar vertel- en fokaliseringsperspektiewe af, en bly die leser ingetrek in die groter poëtiese verhaal.
Die bundel herinner my aan ’n uitspraak wat die Duitse regsetikus Bernard Schlink gemaak het n.a.v Der Vorleser, sy roman oor WO II: ’n Skrywer moet toesien dat mense nie vergeet nie, nie gemaksugtig raak in die hede nie. Die verlede moet allegories in die beskuldigdebank geplaas word en verhoor word. Relevante skryfwerk moet sorg dat lesers bly dink – en bowenal: nooit van die verlede en sy onregte vergeet nie. Ons mág nie vergeet nie.
En dit is wat Ferrus doen, maar nie bitter of pedanties nie, maar met eindelose deernis met die mens en die vaderfiguur.
Nini Bennett-Moll


Reviews
There are no reviews yet.