Die Boekboetiek

,

Rule Breakers: How the 2024 election campaign changed South Africa forever

Herman Pretorius, hoof van strategiese kommunikasie van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, is die seun van die bekende historikus prof. Fransjohan Pretorius.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

 

Die doel van die boek is om aan te toon hoedat die 2024-verkiesing die politieke landskap van Suid-Afrika ingrypend en vir altyd verander het. Die skrywer volg ’n streng wetenskaplike navorsingsmetode, gebaseer op inligting en analise van verskillende opsporingsinstrumente vanwaar hy sy data verkry het. Data is versamel oor die verkiesingsveldtogte van al die politieke partye wat aan die 2024-verkiesing deelgeneem het vanaf 1 Junie 2023 tot 30 Junie 2024. ’n Besonder wye spektrum van openbare media is gebruik om data te onttrek en te analiseer.

Pretorius maak dit duidelik dat, hoewel hy tot ’n mate geaffekteer sou kon word deur sy eie politieke standpunt, hy die data op wetenskaplike wyse ontleed het en aan die hand van miljoene den miljoene data-stukkies sy gevolgtrekkings bereik het. Elke hoofstuk in die boek word gewy aan een maand wat die 2024-verkiesing voorafgegaan het. Die laaste deel van die boek handel oor gebeure na die verkiesing en ’n moontlike scenario vir die toekoms van Suid-Afrika.

My insig is (aan die hand van die skrywer se uiteensetting van sy data-gebaseerde navorsingsmetodologie én my lees van die boek) dat die skrywer sy doelwit om objektiewe inligting te verskaf, bereik het. Hy gee, onder andere, met gebruikmaking van die nodige statistiese data en tersaaklike grafieke, ’n besonder deeglike beskrywing van hoe sekere gebeure in aanloop tot die verkiesing bepaalde partye se gewildheid beïnvloed het en wat uiteindelik gelei het tot die swak vertoning van die ANC, die vorming van die RNE en die voorspellings wat hy ten opsigte van die toekomstige politieke landskap van Suid-Afrika maak.

Die skrywer beweer:

The moments, narratives, events and developments considered  … represent those instances when public sentiment was truly moulded to affect the future of over 60 million people. (p. 16)

Hierdie boek is een van die beste navorsingsverslae wat ek in ʼn lang tyd gelees het. Vir enige iemand wat in die hedendaagse politiek belangstel en wat ʼn kundige se insig kan waardeer, is dit ʼn móét. Die boek lees maklik, maar bevat die nodige feitelikhede en denkspronge om dit ʼn uiters geloofwaardige werk te maak. Dit het my oë oopgemaak vir ʼn proses wat onder my neus plaasgevind het, maar waarvoor ek nie die nodige insig gehad het om dit te interpreteer nie.

© Marlies Taljard

Titel: Rule Breakers: How the 2024 election campaign changed South Africa forever

Outeur: Herman Pretorius 

Uitgewer: Protea Boekhuis, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Rule Breakers: How the 2024 election campaign changed South Africa forever”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top