Reg in die middel van nêrens, iewers tussen Kenhardt en Pofadder, gooi die veertienjarige Vandre se pa die bakkie om.
Vandre woon saam met sy ma in Engeland. Tydens sy vakansie kom hy na Suid-Afrika om by sy pa te kuier en hulle reis Boesmanland toe om sy grootouers te besoek. Na die ongeluk besef Vandre dat sy pa waarskynlik ernstig beseer is, dat hulle in ‘n verlate gebied is en dat die moontlikheid dat iemand sal verbykom en hulle sien, byna nul is. Hy stel tot sy ontsteltenis vas dat daar geen selfoonsein is nie en besef dat hy moet gaan soek na nabygeleë inwoners. Skielik is hy, ’n seun wat dikwels op skool geboelie word, verplig om lewensbelangrike besluite te neem en vir sy eie oorlewing verantwoordelikheid te neem.
Die eerste paar dae oorleef hy genadiglik heeltemal op sy eie. Op die vyfde dag steek ‘n skerpioen hom en hy verloor sy bewussyn. ’n Man wat in die omgewing in ’n veldhut woon vind en versorg hom met die beperkte middele tot sy beskikking. Hy verpleeg hom met inheemse medisyne tot hy gesond is. Vandre besef algaande sy verbondenheid aan die mense van dié barre streek, aangesien sy ma se familie ook deel is van die inheemse bevolking van die Noordwes-Kaap. Hy leer algaande ‘n hele nuwe, eenvoudige leefstyl gebaseer op inheemse kennis aan.
Hierdie roman laat die term “sosiale samehorigheid” konkreet lewe kry deurdat dit fokus op inheemse lewenstyle, deur die inherente goedheid van alle mense te beklemtoon, deur te demonstreer dat daar wel, op grondvlak, goeie verhoudings tussen alle rasse is en dat ons as ‘n nasie in vrede met mekaar kan saamleef. Dit ondermyn die narratief van rassehaat en rassisme wat tans een van die mees vernietigende (politiek-aangevuurde) sosiale narratiewe oor Suid-Afrika en sy mense is.
Titel: Reg in die middel van nêrens
Outeur: Nellie Alberts
Uitgewer: LAPA 2023


Reviews
There are no reviews yet.