Plus 50, ʼn tydskrif vir senior mense, bestaan al 20 jaar. Die bylaag Plus 50 Streek/Region word tweekeer per jaar gepubliseer en fokus telkens op ʼn bepaalde streek van Suid-Afrika. Die historikus, literêre kenner en skrywer dr. Johann Lodewyk Marais is die gasredakteur van Plus 50 Streek/Region. Soos vantevore bied ook Volume 3 (1) – die Augustus 2025-bylae – ʼn oorsig van ‘n spesifieke streek, van wat die besoeker daar kan ervaar, wie op ‘n besondere manier tot die gemeenskap bygedra het, daarmee verbind is en vir wie hierdie ruimte lewensverrykend is.
Hierdie uitgawe neem die Magaliesberg-streek in oënskou. Talryke kleurfoto’s op glanspapier maak die tydskrif besonder aantreklik en lesersvriendelik. Die 18 boeiende artikels dek ʼn wye verskeidenheid aan temas, plekke en mense. Die taalgebruik is suiwer en eenvoudig, geskik vir alle lesers. Vir iemand wat self in dié streek woon, het ek werklik skaam gekry dat ek so min weet van my eie grootwordplek. Vyf temas kom aan die beurt, naamlik profiele, landskap, kultuurgeskiedenis, landbou en ander aktiwiteite soos sport en die dorpie Magaliesburg en omtrekke.
Die twee artikels oor die kunstenaarsfamilie Holm wat in die berge bokant die Hartbeespoortdam woon, het my besonder beïndruk. (ʼn Boek oor die kunstenaar Elly Holm deur haar seun Dieter Holm het pas by Imprimatur verskyn.) Verder skryf Johann Lodewyk Marais onder andere oor die begraafplaas op Pelindaba, Van Gaalen se kaasmakery en natuurroetes naby Skeerpoort. Die bekende historikus Fransjohan Pretorius is ook ʼn gereelde bydraer en skryf in die Augustus-uitgawe oor die Magaliesberg en die Anglo-Boereoorlog. Mauritz Naudé berig baie insiggewend oor die bou van die Hartbeespoortdam. Gerard de Kamper se “Kuns van die Magaliesberg” raak aan bekende kunstenaars soos Jo Roos, Johan van Heerden, Coert Steynberg, H.J. Pierneef, Frans Oerder, Erich Mayer en Alexis Preller. Johann Tempelhoff bring op interessante wyse Oom Schalk Lourens se voggies en die waterkwaliteit van die Kliprivier bymekaar. Ook vir sportliefhebbers is daar enkele artikels wat onder andere handel oor Rustenburg se rugbyklub en die groot aantal prag-gholfbane wat entoesiaste kan uittoets. ʼn Omgewingskwessie wat die afgelope tyd dikwels in die media opduik, is die besoedeling van die Hartbeespoortdam deur waterhiasinte. Jaqui van Dyk neem dié probleem onder die loep en verduidelik hoe biologiese beheer wat deur die Sentrum vir Biologiese Beheer aan die Rhodes-universiteit die afgelope tyd indrukwekkende vordering gemaak het om dié probleem te bekamp deur die vrylating van die insek Megamelus scutellaris.
Teen R58.00 vir die tydskrif Plus 50 met die bylae Streek/Region is hierdie een van die beste aankope vir die koffietafel – en maklik verkrygbaar by supermarkte. Ek bêre myne in my koffietafellaai sodat ek dit gereeld kan herbesoek.
© Marlies Taljard
Plus 50 met Streek / Region (Tydskrif)
Uitgewer: Plus 50 Media (Pty) Ltd
Verskyn tweemaal per jaar
Taal: Afrikaans / Engels


Reviews
There are no reviews yet.