’n Jaco Jacobs-boek is altyd ’n wenner – vra maar my kleinkinders wat my versondig as daar weer ’n nuwe een verskyn!
Jaco Jacobs se Net nie ’n hond nie is die ideale kinderboek. Dit het ‘n groot formaat, is kleurvol geïllustreer en het min teks in ‘n groot lettertipe. Dit is dus ideaal vir selflees.
Wim se verjaarsdag is om die draai. Hy kan kies wat hy vir sy verjaarsdag wil hê en besluit dadelik op ‘n hond. Hierdie wens word met afgryse deur sy ouers ontvang.
Hulle stel ander geskenke voor: ’n kitaar, ’n luislang, ’n motorfiets … Maar nee! Verskeie nadele van honde word gelys: hulle is vuil, vernietig speelgoed en meubels, moet gereeld gevoer en versorg word. Die verjaardagmaatjie vind vernuftige teenargumente en kan die nadele van ander moontlike verjaardaggeskenke uitwys. Hierdeur word redenasievermoë by kinders ingeskerp.
Taal word sorgsaam gekies sonder om die klein kind se begrip te oorskry. Hierdeur leer kinders ook nuwe woordeskat.
Omdat die aanhou van troeteldiere ‘n kwessie is waarmee alle kinders kan identifiseer, sal kinders van alle sosiale groepe tot hierdie storie aangetrokke wees – dit is ‘n universele tema. Die storie is opvoedkundig gepas vir die ouderdomsgroep waarvoor dit geskryf is – kinders leer hoe om vir troeteldiere te sorg en dat hulle ‘n voortdurende verantwoordelikheid is.
Humor speel ‘n belangrike rol en word weerspieël in die illustrasies. Wat baie belangrik is, is dat die basiese argumentstruktuur gevolg word in die oorweging van die voor- en nadele van honde as troeteldiere. ‘n Belangrike faset van die boek is dat dit kinders leer om tussen die lyne te lees (insinuasie as ‘n stilistiese tegniek).
’n Jaco Jacobs is nooit ’n fout nie! Sy boeke kan byna blindweg aangekoop word – hierdie een beslis ook!
@Marlies Taljard
Titel: Net nie ‘n hond nie
Outeur: Jaco Jacobs
Uitgewer: Pan Macmillan SA 2023


Reviews
There are no reviews yet.