Die Boekboetiek

‘n Jaar in my lewe

Die flapteks van hierdie roman vra: “Is die liefde sterk genoeg om alles te oorwin?”

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Die roman ’n Jaar in my lewe wentel om die matriekjaar van Liam en Martin. Dit is 1996 in Potgietersrus (tans Mokopane) en die gemeenskap is konserwatief. Om in dié tyd gay te wees, is nie aanvaarbaar nie. Liam weet hy is gay en sy ouers, ’n predikantspaar, aanvaar dit. Maar ander ouers en veral medeskoliere is minder verdraagsaam en selfs wreed. Seuns moet “manne” wees, anders word hulle verstoot en geboelie. Stadigaan begin ’n groep matrieks hulle seksuele identiteit ontdek, bevraagteken en in sommige gevalle aanvaar. Is ek gay? Is ek straight? Of is ek bisexual? Dis nie so maklik nie, maar Liam en Martin se vriendskap word al hegter. Wanneer hulle seksuele oriëntasie aan die lig kom, het dit ernstige gevolge en word die hele gemeenskap betrek.

Hierdie is ’n tipiese Bildungsroman waarin jong seuns die drempel van kindwees na volwassenheid oorsteek en sekere keuses ten opsigte van hulle identiteit en seksualiteit moet leer aanvaar. Seks en seksualiteit word openlik bespreek en beskryf, hoewel in goeie smaak. Geen skokkend eksplisiete tonele kom voor nie. Seksuele voorkeure, en veral gay seksualiteit word as normaal uitgebeeld en selfdegeslagverhoudings word nie veroordeel nie. Trouens, die roman eindig positief vir die twee vriende.

Die aanbod is interessant deurdat die verhaal vanuit die oogpunte van sowel Liam as Martin vertel word. Die eerstepersoonsvertelling het die voordeel dat die gedagtegang en diepste geheime, vrese en vreugdes van die twee hooffigure aan die leser bekend is. Die innerlike stryd en skuldgevoelens lei in een van die twee vriende se lewens byna tot ’n katastrofe. Gelukkig is daar ’n ouerpaar wat met deernis en liefde optree en sodoende onheil afweer.

Die strekking van die roman is dat liefde in enige “vorm” teenspoed, hartseer en verwerping kan oorwin. Uiteindelik lei die opregte liefde van twee seuns vir mekaar tot begrip en vergifnis binne die gemeenskap. Een ouerpaar moet egter die gemeenskap verlaat omdat hulle self te seer gekry het in die proses.

© Marlies Taljard

Titel: ‘n Jaar in my lewe

Outeur: Louis Pretorius

Uitgewer: LAPA, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “‘n Jaar in my lewe”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top