Wanneer Katarien se gehuurde motor op die N4-Bakwena net duskant Buffelspoort oor ’n groot klip ry en sy gestrand sit, kom ’n aantreklike man tot haar redding – dié man wat sy minute gelede in spitsverkeer nog uitgetrap het as ʼn tipiese BMW-eienaar wat dink dat die pad aan hom behoort. Hy ken toevallig ook haar ouma wat in Rustenburg in die hospitaal is én haar nefie. Katarien het juis van Zimbabwe ingevlieg om haar ouma by te staan. Min kon sy egter raai dat Armandt du Toit die besturende direkteur is van die platinummyn waar sy pas as rotsingenieur aangestel is, dat hulle heelwat gedeelde kennisse het en binnekort gemaklik in die klein plattelandse gemeenskap anderkant Rustenburg sou inpas.
Katarien en Armandt raak vinnig romanties by mekaar betrokke, maar in die opset van hulle werk raak dit kennelik problematies, veral wanneer sy dringende aanbevelings maak dat ’n sekere skag onmiddellik gesluit moet word, en ’n arrogante mynkaptein haar ignoreer en haar bekwaamheid (as vroulike myningenieur) in twyfel trek. Wanneer die skag inval en menselewens op die spel is, is die vonk in die kruitvat. Katarien haas haar na die toneel ondergronds en staan haar man/vrou waar sekondes tel en die skag enige tyd verder kan instort.
Ook die romantiese verhouding begin nou krake vertoon. Karatien se onverbiddelike houding maak dit nie beter nie, maar dan vang Armandt se verrassing haar onkant. Sy sagte en toegeeflike kant oorrompel Katarien wanneer hy ʼn ware sprokiestoneel in die veld optower.
Wenholdt kry dit reg om die hoofkarakters interessant en wesensgetrou uit te beeld. Die Rustenburg – Swartruggens – Marikana-ruimte en die plattelandse mense wat daar woon word oortuigend geskilder. Uitbeelding van die myn-ruimte sou ʼn positiewe bydrae tot die verhaal gemaak het.
Die skrywer skryf vaardig en die verhaal verloop vlot. Die plot is interessant en vol verrassings en die feministiese inslag het my as leser oortuig.
Mariëtte Wenholdt is ʼn ervare skrywer wat die moeilike romanza-genre met sofistikasie bemeester. Ek kan Myner van my hart met vrymoedigheid aanbeveel as ontspanningsleesstof.
© Marlies Taljard
Titel: Myner van my hart
Outeur: Mariëtte Wenholdt
Uitgewer: LAPA, 2026


Reviews
There are no reviews yet.