Toe ek op skool was en Geskiedenis as vak geneem het, is ons deur die Geskiedenisonderwyser wysgemaak dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis (én die Europese geskiedenis!) wat in FA van Jaarsveld se geskiedenishandboeke opgeteken is, die waarheid, die volle waarheid en niks anders is nie. Ons is nooit toegelaat om die geskiedenis te bevraagteken nie – nog minder om te wonder of dit nie blote mites of fiksies is nie. Tog besef ons vandag dat wat ons destyds geleer het, maar net één weergawe van die verlede is. Vandag het die moderne samelewing sy geloof verloor in sulke metanarratiewe as “total philosophies of history” (aldus Martin Halbert, 2006). Ons besef dat daar baie “waarhede” bestaan en dat een enkele narratief nooit ’n betroubare weergawe van gebeure kan weergee nie. Ons besef ook dat wat mens as “geskiedenis” sou kon aanvaar, bestaan uit ’n veelheid van sienswyses, stories en interpretasies, dat “geskiedenis” ’n kollektewe term is vir ’n pletora van persoonlike en kleingeskiedenisse.
Daarom is ’n boek soos die historikus Johann Lodewyk Marais se kultuurgeskiedenis oor Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne ’n uiters waardevolle toevoeging tot geskiedskrywing in Suid-Afrika omdat dit die kleingskiedenisse van ’n bepaalde streek dokumenteer.
Die boek is besonder netjies uitgegee deur Imprimatur met ’n kleurvolle voorblad, ’n netjiese kaart van die Noordoos Vrystaat en heelwat foto’s. Die noukeurigheid waarmee die skrywer sy onderwerp aanpak is indrukwekkend, in die besonder die aandag aan detail. Marais se taalgebruik is onbesproke en dié van ’n digter (wat hy natuurlik ook is). In die Inleiding word die doel en werkwyse uiteengesit. Daarna is daar nog ’n Agtergrond waarteen die navorsing plaasgevind het en dan kom hoofstukke oor Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne aan die beurt. Ten slotte is daar ’n samevatting waarin die werk in groter perspektief geplaas word.
Wat my beïndruk is dat die skrywer daarin slaag om ’n relatief droë geskiedenis van ’n streek wat ek glad nie ken nie, interessant aan te bied, veral omdat die karakters wat hy beskryf, lewe kry en omdat klein, interessante stories in die vertelling ingeweef word. Die kwaliteit navorsing wat in hierdie werk ingegaan het, is – om die minste te sê – imponerend!
Ek beveel graag hierdie boek aan vir almal wat van die geskiedenis hou, maar veral vir mense wat van die Noordoos-Vrystaat kom – dalk lees jy nog iets oor jou pa of jou oupa of jou oumagrootjie raak. Maar lees dit nogtans, ook vir die pure genot!
© Marlies Taljard
Titel: Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne: ’n Kultuurgeskiedenis
Outeur: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Imprimatur 2022


Reviews
There are no reviews yet.