Die Boekboetiek

Lost lambs

Megan Nolan se indruk van Madeline Cash se Lost Lambs, “Loud, hilarious, shocking and sensitive”, som dié boek perfek op.

.Lees meer in die beskrywing hieronder…

ʼn Disfunksionele familie word hier uitgebeeld op banale, skreeusnaakse, deernisvolle en emosionele wyse. Die sepie-agtige satire gaan egter later oor in ʼn samesweringsriller met donker humor wat ʼn korrupte miljardêr betrek met wie die moeder ʼn verhouding het. Ek is nie seker dat dié genrevermenging funksioneel is nie.

Die Flynn-egpaar se oop huwelik werk blykbaar net vir Catherine, terwyl haar man Bud aan selfmoord dink en die drie dogters elk op eie, unieke wyse in opstand kom.

Die jongste dogter, Harper, word, soos in strokiesprente van bisarre genieë, uitgebeeld as sosiaal onaanpasbaar, iemand wat in komplekse jargon praat en obsessief fokus op minuskule besonderhede.

Die oudste, Abigail, het ʼn verhouding met ʼn eks-soldaat wat bekend staan as “War Crimes Wes”. Die middelkind, Louise, onderskei haarself op die gebied van asemophou – sy kan haar asem ophou tot sy flou word. Intussen het sy ʼn aanlyn vriendskap met ʼn Islamitiese fundamentalis.

Uiteindelik sluit Bud, nadat hy ʼn finale waarskuwing by die werk ontvang, by die kerk se “Lost Lambs”-uitreikprogram aan. Dan begin die poppe dans …

Alles volgens my smaak effens té oordadig, té geforseerd en té absurd; té deadpan en té sitcom. Die breed uitgewerkte vertellings van karakters se eienaardighede in plaas van karakteropenbarende dialoog en dramatiese handeling word ook later eenvoudig té veel. Karakters word selde meer as blote eendimensionele karikature. Nog ʼn foefie wat te ver gevoer word, is dat na aanleiding van die woord “gnat” – ʼn plaag wat die predikant irriteer – ʼn addisionele g dwarsdeur die teks van 320 bladsye in woorde ingevoeg word, soos in “dognated” in plaas van “donated” en “explagnation” in plas van “explanation”.

Ten spyte daarvan word die boek egter deur publikasies soos The New York Times en The Guardian hoog aangeslaan vanweë die hiper-humoristiese, strokiesprent-agtig, vaardige en kreatiewe styl.

Ek wil nie die boek heeltemal afskiet nie. Hoewel dit nie in my persoonlike smaak geval het nie, sal veral jonger lesers waarskynlik daarvan hou – dit is hiper-Amerikaans! As mens verby die stilistiese ongemakke kyk, word die storie uiteindelik fassinerend en begin die leser deernis ontwikkel vir die getraumatiseerde, soekende karakters wat insig bied in die moderne samelewing waarin families dikwels gefragmenteerd, verwond en oor die algemeen disfunksioneel is en individue ten alle koste die aandag op hulleself wil vestig.

 

© Marlies Taljard

Titel: Lost Lambs

Outeur: Madeline Cash

Uitgewer: Penguin Random House, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Lost lambs”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top