Die Boekboetiek

,

Liefde uit die puin

Liefde uit die puin is die jongste Romanza uit die pen van Naretha Franken. Liefde, die puin en die vernietiging van die verlede, liefde en daaglikse lewe in ‘n hospitaal se trauma-eenheid vorm die spilpunt van die verhaal.

Lees meer in die beskrywing hier onder…

Dr Dolf Ruckli en dr Mia Le Roux was nege jaar gelede vir drie dae vasgekeer in ‘n hysbak ná ‘n ontploffing. Hulle was slegs aangewese op mekaar, in die aangesig van die dood – ‘n insident wat die jong dokters liefs wou vergeet. Dolf se ouers het hom Kanada toe geneem, en Mia het op pynlike wyse probeer aangaan met haar lewe. Maar weke na die hysbak-insident vind sy egter uit sy is swanger.

Nege jaar later word daar ‘n nuwe hospitaalhoof aangestel, en Mia is verward: wat is dan so bekend omtrent dr Ruckli? Sy onthou dat sy tydens die noue ontkoming in die hyser die dokter wat by haar was, slegs geken het as een van die “Vier Rasketeers” – of Ricky – Mr Cool Guy. Dit was toe nog pure studentepret.

Intussen het Mia se seun, Reinhardt, ‘n opgeskote, oulike jongeling geword; ongelukkig een sonder ‘n pa. Maar die idiosinkrasie van ‘n liggaam vertel nie leuens nie. Mia versorg vir Dolf na ‘n amper noodlottige gebeurtenis en onthou skielik daar is iets omtrent sy liggaam wat uniek is. Maar die vraag is: weet, of onthou Dolf wie sy is?

Hierdie is ‘n boeiende en eg menslike Romanza. Die tonele in die hospitaal se trauma-afdeling herinner as mediese reekse soos The Resident, en is besonder goed nagevors. Maatskaplike probleme oorvleuel dikwels met mediese dramas, soos die subverhaallyne van die romanse ook getuig. Die verpleegpersoneel met hulle onderskeie geite sorg vir ‘n welkome afwisseling: Xander, Freda, Vicky…

Die protagoniste se karakterontwikkeling is geloofwaardig en Franken skryf met ‘n empatiese aanslag oor die rol van trauma, noodlot en die liefde. Na amper ‘n dekade het tyd sy letsels op almal gelaat. Hoe gaan die onderskeie personasies op die waarheid reageer?

Bestel of koop dié Romanza, lees, en vind self uit…

© Nini Bennett-Moll

Titel: Liefde uit die puin

Outeur: Naretha Franken

Uitgewer: LAPA, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Liefde uit die puin”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top