Die Boekboetiek

,

Leer my vertrou

Riana se vriendinne reël vir haar ‘n speed dating-uitstappie en sy ontmoet vir Jacques, ‘n geskeide man, wat nes sy, onder druk van vriende en familie ‘n toe-oog-afspraak moet bywoon. Hulle gesels land en sand, onder meer oor die liefde en skerts ook oor BDSM en Fifty Shades of grey. Maar onder dié speelse bravade versteek beide protagoniste die pyn van hulle vorige gebroke huwelike.

Lees meer in die beskrywing hier onder…

Na hierdie aangename, dog gedwonge ontmoeting vertrek Riana saam met Jacques en sy toergroep Zanzibar toe. Riana raak bewus van Jacques se gevoelens jeens haar, maar maak dit af as die komplimente van ‘n gladdebek vleier. Sy dra nog die letsels van haar haar huwelik met Marius, ‘n narsis en akoholis wat haar emosioneel mishandel en met ander vroue verhoudings aangeknoop het. Sy het immers haar vertroue in mans en romantiese verhoudings lank terug reeds verloor. Een goeie ding wat uit haar huwelik met Marius voortgespruit het, is haar kinders, Ruan en Renata, albei studente en pragtige jongmense wat baie beskermend oor hulle ma is.

Jacques het na sy vorige huwelik insgelyks besluit om nooit weer te trou nie. Maar hoe nou gemaak – is sy gevoelens vir Riana net ‘n verbygaande flirtasie? En hoe is dit moontlik dat ‘n man wat so gevaarlik – en dodelik – aantreklik soos Jacques is, nog enkellopend kan wees? Of het hy dalk ‘n vrou wat in die geheim tuis op hom wag terug te keer?

Wéér neem Jacques, vergesel van sy toergroep, vir Riana saam, dié keer Thailand toe. Maar soos in die geval van Zanzibar, was sy ook saam met Marius in Thailand en krap die reise weer ou wonde oop. Intussen verneem Riana dat Marius haar kinders se sakgeld afgesny het, en besef: daar is ‘n definitief ‘n rede daarvoor.

Leer my vertrou handel oor twee ouer minnaars, beide in hulle veertigs, wat weer die moed moet hê om te leer vertrou; om weer lief te hê. Die Romanza is deel van die Stoom 18+- reeks, en soos die ouderdomsbeperking aandui, wemel die boek van eksplisiete grafiese erotiese tonele.

‘n Pluimpie vir Louise van die Merwe vir die indrukwekkende wyse waarop sy dialoog aanwend in haar romanse. Dis so spontaan, dit voel of die gesprekke in jou huis self kon gebeur het. Op ‘n manier herinner Leer my liefhê aan die rustige en hipnotiese kwaliteit van dialoog van ‘n Woodie Allen-film.

Afgesien van die ouderdomsbeperking van die werk as ‘n Romanza-Stoom, is die verhaal besonder sensitief in die aanbod van die dieper emosionele en sielkundige verwonding wat middeljarige geliefdes beleef. Dit lees soos ‘n lang romantiese droom – koop dit, en geniet die lees!

© Nini Bennett-Moll

Titel: Leer my vertrou

Outeur: Louise van der Merwe

Uitgewer: LAPA Uitgewers

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Leer my vertrou”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top