Die storie handel oor Lea wat deur die tweeling Elsie en Miems Fourie geboelie word – die argetipiese twee rooikopmeisies. Wanneer sy uiteindelik die moed bymekaar skraap om met haar ma te praat, word daar opgetree. Die boelies word gestraf, maar Lea vergewe en nooi hulle uit om by haar te kom speel.
Gesien in die lig daarvan dat boeliegedrag tans dikwels in die nuus is en op sosiale media aandag geniet, is hierdie ʼn baie belangrike storie wat elke klein kind (én elke ouer) ter harte behoort te neem. Boeliegedrag is ʼn gedragsafwyking wat verreikende gevolge kan inhou vir die kind wat geboelie word, maar ook vir die kind wat ander afknou en boelie. Kinders wat geboelie word, ly dikwels aan angs en depressie en ʼn lae selfbeeld, soos dit uit hierdie storie blyk. Op die lange duur kan kinders wat geboelie word aan slaaploosheid en nagmerries ly en selfs tekens van trauma en post-traumatiese stres sindroom ervaar en dit ly in uiterste gevalle tot selfmoord. Dit is nie vreemd nie dat sulke kinders swak presteer op skool en hulleself aan sosiale aktiwiteite onttrek. Die boelie self staan eweneens in gevaar om weens sy/haar negatiewe gedrag en gedagtes betrokke te raak by dwelmmisbruik, misdaad en ander gedragsprobleme. Geweld genereer meer geweld en indien die siklus nie gebreek word nie – soos deur Lea wat haar boelies vergewe en ʼn positiewe gedragspatroon inisieer – kan dit in ʼn siklus van geweld ontaard wat moeilik verbreek word en families en gemeenskappe ernstig en negatief beïnvloed.
Daarom is hierdie boek ʼn belangrike opvoedkundige instrument in die hande van ouers en onderwysers en kan die waarde van sulke opvoedkundige stories nie onderskat word nie.
© Marlies Taljard
Titel: Lea and the bullies
Outeur: Johann Strauss en Zuléka Smit (illustratsies)
Uitgewer: LUCA, 2025


Reviews
There are no reviews yet.