Die historikus Johann Lodewyk Marais, wat ook ’n bekroonde Afrikaanse digter is, beskik oor die vermoë om sy lesers aan sy lippe te laat hang. Marais het Kenia tweekeer besoek as deel van sy doktorale studies.
Vir iemand soos ek wat skaars Kenia op ’n wêreldkaart kan aantoon, is verskeie kaarte wat vir gewone lesers toeganklik is, van waarde omdat dit ons help om onnself te oriënteer – nie slegs van waar Kenia in Afrika geleë is nie, maar ook ten opsigte van verskeie reise wat die skrywer in die land onderneem het. Ook enkele kleurfoto’s gee die leser ’n indruk van die mense, bedrywighede, stede en landskappe wat in die boek ter sprake kom.
As fyn waarnemer van mense en die menslike kondisie was hierdie reisboek vir my fassinerend omdat die skrywer daarin slaag om individue binne hulle konteks op te som en te kenskets. Hy beskryf enkele persone wat hy as deel van sy navorsing besoek, maar wat veral interessant is, is die mense “op straat” – die taxibestuurders, die mense wat hy in eetplekke ontmoet, mense wat hom behulpsaam is wanneer hy inligting soek.
Ook die omgewing vang Marais deur gedetailleerde beskrywing vas, die gebruike, verskillende godsdienste en rituele. Hy beskryf elke hotelkamer in besonderhede, veral die kos wat aan hom voorgesit word – hoe dit smaak, hoe dit ruik, hoe dit lyk, waaruit dit bestaan.
Marais is ’n besonder noukeurige landskapskilder met woorde. Hy kry dit reg om die verskillende landskappe waardeur hy reis, só te beskryf dat ek dit as’t ware voor my kon sien afspeel. Kenia is vir Suid-Afrikaners in baie opsigte ’n vreemde, selfs romantiese land, meestal slegs bekend deur boeke of flieks, soos Out of Africa, die memoir van die Deense skrywer Karen Blixen (Isak Dnesin) wat ook verfilm is onder leiding van Sydney Pollack, met Meryl Streep en Robert Redford in die hoofolle. Dié landskappe beskryf Marais, asook dié van Joy Adamson en haar leeuwyfie Elsa soos ons dit in Born Free gesien het. Maar veral ook straattonele in Nairobi, Mombasa en Lamu, tonele vanuit die vliegtuig en die trein, ritte wat hy per taxi of geleentheid onderneem, straattonele te voet, winkels, stegies, die groot mere, die Skeurvallei, bome en blomme.
Soos die skrywer reis, vertel hy interessante grepe uit die geskiedenis van die landskap en sy mense. In hulle eie woorde vertel sekere mense hulle eie kleingeskiedenisse wat meermale besonder fassinerend is. Al reisend soek die skrywer na boeke oor die streek wat hom met sy studies sal help, hy verwyl lank en talmend in boekwinkels, kyk na snuisterye en kuns, gaan saam met verskillende reisgidse na besienswaardighede en plekke van historiese belang wat hy sedert sy kinderjare graag wou sien, werk in die universiteitsbiblioteek, geniet die nagtelike straatlewe, vra uit oor die politiek van die dag en lees koerante.
Johann Lodewyk Marais is ’n onderhoudende skrywer, iemand met ’n besondere liefde vir Kenia wat uiteindelik die droom wat hy al van kindsbeen af koester, kan realiseer. Hy skryf vanuit ’n verbasende bron van kennis en inligting oor die land wat hy besoek en fokus op besonderhede. Vir die reisverhaal gaan dit uiteindelik daarom dat die besondere, en nie die algemene nie, die fokus van die vertelling is, en daarin slaag Marais by uitnemendheid.
Lees die boek – jy gaan dit geniet!
© Marlies Taljard
Outeur: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Imprimatur


Reviews
There are no reviews yet.