Die Boekboetiek

,

Kombuistaal: Gesonde resepte en rympies vol pret

Kombuistaal is ’n grootformaat resepteboek met ’n verskil, spesiaal vir jong kokke. Die boek se kleurvolle illustrasies op elke bladsy nooi die jong kok uit om die kombuis om te dolwe en self te begin eksperimenteer met eksotiese en “gewone” disse. Dis boonop in maklik verstaanbare taal geskryf en in eenvoudige stappe uiteengesit wat selfs laerskoolleerders kan verstaan. Die resep vir maklike hoendersop sê byvoorbeeld dis genoeg vir 6 mense, dan volg “Kry die gereedskap reg”, “Kry die bestanddele reg” en “Maak dit so”. Die laaste stap is: “Vra ’n grootmens om jou te help. Lig die hoender uit die sop met ’n gaatjieslepel en haal al die beentjies uit …” Dit is belangrik vir kinders om te weet watter stappe dalk nie binne hulle vermoë lê nie en wanneer om hulp te vra. Opvoedkundig is dit ook belangrik.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Hoewel die metodes eenvoudig is, maak interessante bestanddele die geregte spesiaal – byvoorbeeld salm, aspersies, xylitol-versoeter, klappermelk, klappermeel, makadamianeutmeel, avokado-olie, heuning, kruisementblare …

Buiten al die heerlike resepte, is hierdie boek ook ’n leerboek wat die jong sjef kombuisterme leer, gesonde leefgewoontes, gesonde kos, watter kos goed is vir die brein, hoe jou maag funksioneer en watter kossoorte mens moet eet om jou grommende maag gesond en tevrede te hou, wat jy moet eet om sterk spiere en bene te bou, om stamina te bou en om energie vir die dag te verseker.

En dan is daar die verse van Antjie Krog wat selfs nog meer kleur aan die boek verleen. Van kleur gepraat: Roelien Immelman verdien groot kudu’s vir haar inspirerende, kleurvolle en soms snaakse illustrasies. Dit onderskei die boek van ander kosboeke en inspireer selfs grootmense om die resepte te probeer, veral as jou kleinkroos of tieners maats huis toe bring of partytjie wil hou.

© Marlies Taljard

Titel: Kombuistaal: Gesonde resepte en rympies vol pret

Outeur: Vickie de Beer, versies deur Antjie Krog

Uitgewer: LAPA, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Kombuistaal: Gesonde resepte en rympies vol pret”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top