Die Boekboetiek

,

Klaarte

Louis Esterhuizen is een van ons voorste digters en sy oeuvre oorspan 12 bundels, waaronder die jongste “Klaarte” heet. Esterhuizen het in 2011 die Protea-prys vir poësie ontvang vir “Wat die water onthou”. Afgesien van dié bekroning is sy bundels benoem vir die kortlyste van talle literêre toekennings. Etlike van sy verse is opgeneem in onderskeie bloemlesings.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Hy is ook bekend as medestigter van die webwerf Versindaba, ’n kollektiewe weblog vir poësie wat Suid-Afrikaanse digkuns asook die digkuns van die Lae Lande bevorder. As boekhandelaar van Protea Boekhuis in Stellenbosch was Esterhuizen geliefd vir sy boekpraatjies met skrywers en digters, en het insgelyks die literêre kultuurlewe só verryk.

Volgens die HAT beteken die woord “klaarte” die volgende: “onbewolktheid; sonnigheid; ligskyn”. Verdere betekenisassosiasies van die woord is “eindigheid en voltooidheid”; “berusting”; en “epifanie”. Die digter se skryfstyl is diafaan, of helder – ’n mens dink ook aan die (glas-) helder verse in sy voorafgaande bundel, “Die gladde stiltes in glas” (2020).

Meer as in enige digbundel vóór Klaarte lui dié bundel sonder twyfel laatwerk, of laatstyl, in Esterhuizen se oeuvre in.

Laatstyl (of Spätstil) verwys na die eienskappe van ouer wordende kunstenaars, musici, skrywers en digters se werk, en word gekenmerk deur die intrinsieke eienskappe van só kunstenaar se werk waarin die subjek toenemend bewus word van sy eie eindigheid en die onversoenbare teenstrydighede van die wêreld.

In Klaarte lewer Esterhuizen berig oor sy digterlike belewenisse in ’n krimpende, kleiner wordende lewensruimte, byvoorbeeld die digter-spreker se huis en tuin, of herinneringe wat uitspeel in denkbeeldige en vergange ruimtes.

Jeugtrauma, byvoorbeeld aan die hand van ‘n gewelddadige vader, vind byvoorbeeld gestalte in “Die ekke” (17), waar die spreker se verbrokkelde identiteit by wyse van selfironisering aan die leser getoon word.

Deel twee handel oor die liefde tussen die spreker-digter en sy vrou, ’n outobiografiese opgaaf waaruit die leser aflei die geliefde is Marlise Joubert. Hierdie liefdesgedigte binne gerontologiestudies en Esterhuizen se laatstyl is werklik besonders. Dis ’n liefde wat sterk, maar ook ontsettend broos in hul jarigheid verbeeld word, en sorg vir diep ontroerende liefdesverse tussen die twee ouer wordende minnaars.

Die spreker se geliefde word verhef tot ’n argetipiese muse – sy lei hom om deur kuns en estetika heling te vind, en sy is, en bly, sy inspirasie vir die skryf van poësie. Die boustof vir hierdie liefdesgedigte is alledaagse leefervarings, verwysings na die Bybel, (34–5), asook na die mitologie (37). Esterhuizen maak gebruik van intertekstuele spel met Marlise Joubert se bundels, byvoorbeeld in “Die melodie” (28), die inspeling op Joubert se debuutbundel, ’n Boot in die woestyn; en in “Naderby” (29), ’n verwysing na Joubert se bundel, Disteltyd. Bernard Odendaal het op ’n kol verwys na Esterhuizen en Joubert se “digterlike minnetweespraak”, ook na analogie van die egpaar se digbundels Opslagsomer en Lyfsange wat feitlik gelyktydig verskyn het, en waarin hulle intertekstueel met mekaar in gesprek
tree. Dít vorm ’n wesenlike kenmerk van beide digters se oeuvres – met die verskil dat Klaarte nou liefdesgedigte binne die konteks van laatstyl huisves.

In deel vyf takel die digter kwessies soos natuurrampe, oorlog, geopolitieke brandpunte, die Antroposeen en die verval en verwaarlosing van die omgewing, insluitend in Suid-Afrika: gedigte wat spreek van kommer, geaktiveer uit ’n sosiopolitieke bewussyn.

Klaarte registreer ’n besliste hoogtepunt in Esterhuizen se oeuvre; dit is ’n aangrypende en fyn deurgekomponeerde bundel wat tot ’n wye lesersgehoor sal spreek. Let byvoorbeeld op die ontroerende tweede laaste gedig in die bundel:

In die gistertuin

Beminde, luister na die voëls se gekwetter,
die gekweel van soveel kele in ons tuin
wat nog ’n laaste keer die lig

wil bind in ’n prysviering voor die wegwys,
die neerlê, voor die donkerte –
treur saam met my, liefste, ’n laaste keer.

Hierdie is nie ons heenkome nie.
Hierdie is ’n voorlaaste skuif aan ons gegun.
Hierdie is wel die erf van waar ons sal gaan
na wie weet waar.

Die voëls weet dit, so ook die geitjies

teen ons mure. Die lig is al na binne gekeer,
en die ruite dof, maar dit is die verloop
van ons hier,

die opgee van wie-weet-wat en die aan-
beweeg. Maar jý, altyd, altyd –
treur saam met my ’n laaste keer.
Die oogwink is jy. (112)

©Nini Bennett-Moll

Titel: Klaarte
Digter: Louis Esterhuizen
Uitgewer: Naledi 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Klaarte”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top