As historikus is dit uit die aard van die saak riskant om te skryf oor so ’n historiese figuur van wie daar wel in pryssange en mitologiese of semi-mitologiese bronne heelwat inligting bestaan, maar as historikus is dit die skrywer se plig om so objektief en feitlik korrek as moontlik te skryf.
Daarom beskryf Marais sy taak en werkwyse deeglik in die proloog en die inleidende gedeelte van die boek. Omdat hy min tot geen feite het waarop hy kan gaan nie, bespreek Marais dan die verskillende bronne wat min of meer betroubaar is en die verskillende benaderinge wat dié skrywers gevolg het, die verskillende verhale oor Shaka en die tipe literatuur waarin die inligting vervat is.
Daar is heelwat skrywers wat hulle al met die Shaka-figuur bemoei het – sommiges in Engels en Frans, ander in Afrikaans, Sesotho en ander inheemse tale. Ten spyte daarvan dat die leser nooit kan seker wees of bepaalde feite histories korrek is nie, is daar tog sekere aspekte van sy lewe, asook bepaalde gebeurtenisse waaroor verskeie skrywers en pryssangers dit eens is. Hierdie boek bied ’n baie interessante blik op die lewe van ’n omstrede historiese figuur uit die verre verlede van ons nasie se bestaan. ʼn Afrikaanse artikel oor koning Shaka het in 2021 op LitNet verskyn by https://www.litnet.co.za/om-jou-n-zoeloemonarg-raak-te-verbeel-johann-lodewyk-marais-oor-die-uitbeelding-van-shaka/
Wat my beïndruk, is die volledige bibliografie wat die skrywer aanbied. Dit is ʼn groot aanwins vir ander navorsers. Daar is ook ʼn hele aantal eindnotas waarin addisionele inligting verskaf word.
Hierdie boek beveel ek met die grootste vrymoedigheid aan, aangesien dit besonder onderhoudend geskryf is deur ʼn gerespekteerde historikus en digter van formaat.
© Marlies Taljard
Titel: King Shaka
Outeur: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Imprimatur, 2025


Reviews
There are no reviews yet.