Die Boekboetiek

,

Kersbosliefde

Kayla de Lange glo dat haar lewe verby is nadat sy haar familie in ’n motorongeluk verloor het en sy self byna ’n jaar in die hospitaal deurgebring het.

Lees meer in die beskrywing hier onder…

Gelukkig besit sy ’n vakansiehuisie op Dwarskersbos, en dis waar sy heengaan om nuwe rigting in haar lewe te soek. Sy ontmoet gou die beroemde pediater Jack Naudé op wie sy dadelik verlief raak toe hy haar huis toe dra na ’n besering op die rotse. Die romanse vorder vinnig. Aanvanklik is sy huiwerig om ’n nuwe verhouding te begin, maar Jack, wie se verloofde hom met sy vennoot verneuk het, is gou gewillig om sy besluit om nie weer by ’n vrou betrokke te raak nie, te heroorweeg.

Die titel speel in op die ruimte van Dwarskersbos waar die stomende romanse sy loop neem en die aktiwiteit van kerse maak wat ’n belangrike storie-element is.

Die spanning is hoofsaaklik in die harte van die twee verliefdes en sluit skuldgevoelens en vorige voornemens in. Van uiterlike spanning en ernstige beletsels op die verhouding is daar baie min sprake. Gelukkig is daar byna geen hindernis op Kayla en Jack se liefdespad nie. Dit is ook gelukkig dat sowel Kayla as Jack finansieel besonder goed daaraan toe is, en hulle selfs een see-eiendom kan weggee aan vriende. Daarby is hulle goed aangepas by mekaar, aangesien Kayla ’n verpleegster is en Jack ’n medikus. Ook hulle verskillende karakters is besonder goed met mekaar versoenbaar, aangesien hulle beide deernisvolle mense is en tevrede is met die eenvoudige dinge in die lewe.

Die ruimte waarin die verhaal afspeel, is besonder romanties en nét die plek om nuwe liefde te vind en mekaar op liefdevolle wyse te leer ken en waardeer. Dwarskersbos is ’n bekende dorpie op die Suid-Afrikaanse Weskus en ’n gewilde vakansiebestemming vir baie mense. Die huisies is eenvoudig, maar romanties en luuks.

Die verhaal speel in die hede af. Die tydsverloop word kundig hanteer en laat die verhaal glad verloop na ’n gelukkige einde. Aan stomende liefdestonele tussen ’n buitengewoon aantreklike held en ’n wonderskone heldin ontbreek dit ook nie.

Hierdie is nét die boek vir ’n luilekker vakansie langs die see of ’n aand alleen tuis.

(C) Marlies Taljard

Titel: Kersbosliefde

Outeur: Madelie Human

Uitgewer: LAPA, 2025

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Kersbosliefde”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top