Ek het die afgelope paar maande tydens ‘n intense rouproses begin eksperimenteer met ontspanningsfiksie, en is (meermale, maar nie altyd nie), ryklik beloon. Voor in elke romanse is daar ‘n kort inligtingstuk, “Het jy geweet?”, wat jou inlig dat die lees van hierdie verhale ‘n goedvoel-reaksie veroorsaak, wat stres op ‘n natuurlike manier verlig. Die roman se lighartige en humoristiese aanslag het my van bladsy een af geboei. Alhoewel die manlike protagonis, Neil Mulder, in die gedaante van ‘n ouwêreldse kavalier arriveer, is die karakters besonder modern en sprankelend. Die prikkelende wêreld van parfumerie word vir die leser ontsluit: in die kakiebos skuil daar eteriese olies….soortgelyk aan die liefde. Die heldin, Lumé, is ‘n sober chemikus, maar nie bestand teen die volhardende en egte hofmakery van Neil nie.
Die wyse waarop Human die plattelandse plaaslewe met die moderne tydsgees van die stedelike almagameer, beïndruk. Ek het die verwysings na die maak van olies en parfuum besonder leersaam en interessant gevind. Daar is geen los drade in die verhaal nie: Human sorg dat alle detail uiteindelik netjies vasgeknoop word. Wat van haar gevoellose vader? En die plattelandse prokureur? Kan liefde, selfs in die moderne tyd en via tegnologiese hulpmiddels, oorleef…of is dit nie genoeg nie? Wanneer is ‘n man werklik ernstig – en lojaal? En wie gaan wen – ‘n gesofistikeerde Franse pierrewaaier, of ‘n sout-van-die-aarde boerseun?
Moenie dat die tong-in-die-kies titel jou flous nie. Daar steek veel, veel meer in kakiebos as wat jy ooit kon droom…
©Nini Bennett-Moll
Titel: Kakiebosliefde
Outeur: Madelie Human
Uitgewer: LAPA, 2025


Reviews
There are no reviews yet.