Die Boekboetiek

,

Hoe lank is vir altyd?

Krista Joubert bedryf die dating-agentskap Belladonna. Sy ontvang ʼn vreemde versoek van Andreas Meyer, die erfgenaam van ʼn skatryk oupa. Hy moet so gou moontlik trou – voordat hy 28 word – om sy erfporsie in ontvangs te kan neem. Hy wil egter slegs trou ter wille van die geld en dan waarskynlik so gou as moontlik van die lastige wederhelf ontslae raak. Soos te verwagte, skep dit probleme vir Belladonna en Krista. Watter vrou sal nou vir so ʼn bisarre voorstel val? Die aansienlike vergoeding wat die vind van ʼn suksesvolle kandidaat vir die agentskap inhou, maak dit egter ʼn uitdaging waarvoor Krista nie nee kan sê nie.

Lees meer in die beskrywing hier onder…

Hoewel dit heel teen die begin al duidelik is wat die moontlike afloop van die verhaal gaan wees, is daar natuurlik ernstige belemmeringe vir enige vrou wat op die aantreklike Andreas verlief raak en eendag mevrou Meyer wil word. Intussen loop die tyd uit …

LAPA se Romanza-reeks is tans een van die gewildste genres in die Afrikaanse lesersmark wat ontspanningslektuur betref. Ook Hoe lank is vir altyd? lees lekker en die storielyn verloop glad. Omdat LAPA streng woordbeperkings stel, is dit te verwagte dat skrywers nie met hulle woorde op loop sal gaan nie. Juis hierin lê die gewildheid van die romanza, omdat die geoefende leser dit in die bestek van ʼn enkele dag kan klaar lees.

Dina Botha skryf in ʼn toeganklike styl waarin woorde wat ons gewoonlik op Engels sê inderdaad in Engels geskryf word sonder om hinderlik te wees. Wat my egter wel hinder – en dis my persoonlike afkeur – is woorde soos “toep” vir app. Dis nie ʼn woord wat ek al ooit in spreektaal gehoor het nie. En dan ook die oorbenutting van “boog” as werkwoord soos in “haar wenkbroue boog”.

Wat struktuur betref, kry Botha dit reg om ʼn fassinerende roman te skryf binne die bestek van 190 bladsye. Wanneer die spanning eers begin opbou, sal die leser beswaarlik die boek kan neersit. Ten slotte is daar dan tóg ʼn verrassing wat ek nie vir lesers sal bederf nie.

Dit is inderdaad so dat romantiese prosa stresverligtend werk en ʼn gevoel van genoegdoening by die leser laat. Hierdie leser lees romanzas voor slaaptyd en, glo my vry, dit lei meestal tot goeie slaapkwaliteit en soms selfs tot ʼn gevoel van verkwikking die volgende oggend – heel anders as wanneer die dag met die lees van teoretiese tekste afgesluit word!

© Marlies Taljard

Titel: Hoe lank is vir altyd?

Outeur: Dina Botha

Uitgewer: LAPA, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Hoe lank is vir altyd?”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top