Die Boekboetiek

,

Guide to the Cederberg

Anders as gewoonlik, het ek hierdie toergids na die Sederberge van begin tot einde deurgelees. Nie omdat ek spesifiek in die Sederberge wil toer nie, maar omdat dit my geboei het en toeganklik en interessant geskryf is.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

 

Die Sederberg is sowel ʼn nasionale as ʼn wêrelderfenisgebied. Die eerste deel van die boek bevat onder andere ʼn oorsigtelike geskiedenis van die gebied, wat begin by die oergeskiedenis, die San-erfenis en kuns, asook die vestiging van koloniste en boerderyaktiwiteite. Verder word die unieke geologie van die Sederberge, die natuurlike plante- en dierelewe, asook die bewaring van die gebied bespreek.

Die skrywer lê klem daarop dat die Sederberge ʼn plek van stilte en herontwaking is waar stedelinge hulleself opnuut kan leer ontdek. Geen plek vir uithang en lawaai nie! Trouens, geen musiek anders as die menslike stem word toegelaat nie en alle vorme van lawaai word streng verbied. Die Sederberg het ʼn unieke spirituele karakter wat reeds in oertye deur die vroegste bewoners erken is. Daarom behoort besoekers die plek met respek te benader en “niks agter te laat behalwe hulle voetspore nie” – iets wat tans byna onmoontlik is, aangesien sekere roetes groot besoekersgetalle lok en besoedeling reeds plek-plek merkbaar voorkom. Daarom is dit belangrik dat besoekers “uitsprei”, dus ook minder bekende roetes verken. Die skrywer lê groot klem op die gevare van brande wat reeds alle inheemse sederwoude uitgewis het, met slegs enkele groot bome wat verspreid voorkom. Die “groot brand” van 2016 het byvoorbeeld ontstaan omdat mense hulle toiletpapier probeer verbrand het tydens ʼn stormwind!

Die Inleiding bevat ook noodsaaklike inligting vir besoekers: wat om in te pak; “bergmaniere”; verskillende aktiwiteite wat onderneem kan word en hoofroetes.

Natuurlik bevat die boek – as reisgids – meer as interessante agtergrondfeite. Die skrywer identifiseer vyf hoofroetes wat hy breedvoerig en in fyn besonderhede in die tweede deel van die boek bespreek. Dit is belangrik vir die voornemende besoeker om kennis te neem van die begaanbaarheid van paaie, veral na reën en verspoelings wanneer dit selfs vir viertrekvoertuie gevaarlik kan raak. Moet byvoorbeeld nie met jou Porché probeer kom nie.  Ek het die uitvoerige bespreking van paaie waardeer, aangesien dit noodsaaklik is vir die beplanning van ʼn vakansie. Die meeste roetes is natuurlik nie geteer nie. Verskillende roetes is geskik vir verskillende aktiwiteite, soos fiets- en motorfietsroetes, abseil, bergklim, stap, swem en afgesonderde verblyf. Restaurante is skaars, maar daar is heelwat padstalletjies en kleiner eetplekke – by baie moet egter vooraf bespreek word. Wat belangrik is, is dat mens voorbereid moet kom: dit kan skielik baie koud of baie warm word, brandstof moet ingeneem word voordat die bergroetes aangedurf word, selfoonontvangs is wisselend, stalletjies hou nie altyd noodsaaklikhede aan soos mens dit in supermarkte gewoond is nie, en baie plekke het slegs beperkte en basiese kamp- of oorslaapgeriewe. ʼn Pluspunt is dat daar baie plaasopstalle is en dat die boere besonder vriendelik en tegemoetkomend is. Klein kantaantekeninge by roetes, soos byvoorbeeld waar mens kan wyn proe, dat perdryroetes vooraf bespreek moet word en ruiters nie meer as 100kg mag weeg nie en waar kortpaaie begaanbaar is, maak die boek besonder lesersvriendelik en help gebruikers om vooraf hulle vakansie te beplan. Verskeie kaarte maak roetebeplanning gerieflik. Die skrywer lê klem daarop dat selfone en GPS-toepassings sein kan verloor en dat gedrukte kaarte ʼn noodsaaklikheid is. Hy doen dan ook verskeie moontlike kaarte aan die hand wat aangekoop kan word.

Die boek is op duursame glanspapier gedruk, is besonder stewig ingebind vir saamneem op reis en is in verteerbare, kort onderafdelings ingedeel. Soos mens sal verwag, is illustrasies kleurvol en oorvloedig. Kontakbesonderhede ten opsigte van verblyf, asook ʼn volledige indeks rond die boek af.

Hierdie boek is noodsaaklik vir enige iemand wat die Sederberge as vakansiebestemming in die oog het. As ervare toergids en voormalige redakteur van Getaway kan mens David Bristow se raad gerus ernstig opneem en die boek as gids vir ʼn toekomstige wegbreek gebruik.

© Marlies Taljard

Titel: Guide to the Cederberg

Outeur: David Bristow

Uitgewer: StruikNature (Penguin) 2026

 

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Guide to the Cederberg”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top