Die Boekboetiek

,

Feesmaalgang

Dietloff van der Berg was voorheen ‘n professor in Afrikaans/Nederlands, en het van sy gedigte onder meer gepubliseer in Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde en op webwerwe soos Versindaba.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Hy was ook deel van D.J. Opperman se Skeppende Skryfwerkgroep, en het self Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Natal onderrig. Insgelyks het hy vir 20 jaar die Skrywerskring in Pietermaritzburg gelei. Sedert sy aftrede het hy hom op die vertaling van digkuns toegespits, en sy vertaling
van Rumi (Rumi: Liefdesverse en aanhalings, Naledi 2023) is goed ontvang en het talle positiewe resensies tot gevolg gehad. Feesmaalgang is Van der Berg se poësiedebuut. Die titel, (1)Fees=(2)maal=(3)gang bevat die drie komponente/afdelings waaruit die bundel saamgestel is. In die eerste deel, “fees”, word gebruik gemaak van Bybelse simbole soos die skinker en bakker (Genesis 40), maar die verse vorm ook ‘n intertekstuele spel met gedigte van N.P. van Wyk Louw, bv “Voorspel 1950” waarin die bekende “Miskien sal ek die wingerd prys”-beskouing voorkom; óf Louw se verse wat van toepassing is op die wingerd as metafoor (soos “Vroegherfs”).

Ander Bybelse simboliek, bv die van die pottebakker en die klei, kom voor. Van der Berg gebruik dus ou en gevestigde simboliek en argetipes. In die gedig, “Sterrewag”, word daar ‘n meerduidige (die sterre), en intertekstuele spel gevoer word met die broers, N.P. en W.E.G. Louw, wat albei in Sutherland gebore is. Voorts; in die eerste gedeelte vorm die feesmaal ‘n inspeling op Mikhail Bakhtin se
beskouing van die feesmaal, of banket as beliggaming van die lyflike en materiële oorvloed, maar ook met verwysing na die armes (bv die openingsgedig, “Bakker”), wat by implikasie die grense tussen klasse suggereer en dui op die figuurlike omkering van hierargieë. Die feesmaal is ’n viering van die liggaam se materialiteit, wat die sikliese aard van lewe en dood weerspieël. Die feesmaal simboliseer ook die ontvanklikheid van die sensuele menslike ervaring. Die gedigte in hierdie deel handel oor vitaliteit, erotiek en ‘n dankbare lewensdrif rakende onderskeie belewenisse, soos die terugkyk op die bou en ontwikkeling van ’n huis (“Kinnoullweg 53”) of die liefde vir ‘n kind of kleinkind.

“Maal” kondig die begin van die tweede deel aan, en is ook die tweede s.nw in “feesmaalgang”, soos reeds genoem. Hierdie afdeling handel oorwegend oor die rede/intellek – en ek haal aan uit “Woordeboeke”:

“wat verbeelding se fees

met rede se maal.”

Die gedigte in dié deel is ‘n aks donkerder getint en temas soos siekte, bv kanker, kom aan die bod.

“Gang”, die derde deel van “Feesmaalgang” handel oor gedigte wat reise, geskiedenis, mitologie en filosofie betrek. Na my mening vorm die laaste en derde gedeelte dan ook die beste gedigte in die bundel. Waarskynlik omdat die digter met groter afstand as met bloot emotiewe uitdrukking skryf.

Heelwat verse het ‘n religieuse strekking, dié van ‘n gelowige persoon. Van die verse, weer, beskik oor ‘n mistieke en spirituele kwaliteit, byvoorbeeld die reisgedigte wat o.m. verwys na beskermheiliges soos St Fransiskus van Assisi. Van der Berg se gedigte herinner aan komplekse eenvoud; daar skuil heelwat betekenislae onder die huid van die gedigte. In geheel is Feesmaalgang ‘n netjies deurgekomponeerde bundel wat die leser van poësie heelwat vreugde sal verskaf.

©Nini Bennett-Moll

Titel: Feesmaalgang
Digter: Dietloff van der Berg
Uitgewer: Naledi 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Feesmaalgang”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top