Die Boekboetiek

Fair to bloody: ’n Blik op dr. Petronella van Heerden (1887 – 1975)

Klein-botteltjie-groot-gif

In ʼn stylvolle boekie van 20 bladsye met enkele foto’s op glanspapier skryf die historikus en digter dr. Johann Lodewyk Marais onderhoudend in sy besadigde, presiese styl oor ʼn merkwaardige vrou – dr. Petronella van Heerden. Die vertelling is gebaseer op ʼn lesing wat die skrywer tydens die “Harrismith Saamtrek” in 2023 gehou het.

Petronella van Heerden het reeds in haar eie tyd as ʼn sterk vrou bekendgestaan.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

 

In ʼn stylvolle boekie van 20 bladsye met enkele foto’s op glanspapier skryf die historikus en digter dr. Johann Lodewyk Marais onderhoudend in sy besadigde, presiese styl oor ʼn merkwaardige vrou – dr. Petronella van Heerden. Die vertelling is gebaseer op ʼn lesing wat die skrywer tydens die “Harrismith Saamtrek” in 2023 gehou het.

Petronella van Heerden het reeds in haar eie tyd as ʼn sterk vrou bekendgestaan. Weens haar seksuele voorkeur en die feit dat sy skaamteloos mansklere gedra het, was sy haar lewe lank ʼn buitestander en gemarginaliseerde. Sy was die eerste Suid-Afrikaans gebore Afrikanervrou wat haarself as medikus en later as ginekoloog bekwaam het. As skrywer was sy haar tyd vooruit deurdat sy destyds reeds op eko-kwessies en die vroue-stemreg gefokus het en alternatiewe politieke sieninge gehuldig het. Die samestelling van die Van Heerden-geslagsregister is eweneens een van haar prestasies. Daarbenewens was sy ʼn hartstogtelike boer en dokter.

Marais skryf na aanleiding van Petronella van Heerden se eie werk uitgebreid oor haar jeug- en studiejare. Haar belewenis van die Anglo-Boereoorlog is ʼn kleingeskiedenis wat besondere insigte verskaf en kleur verleen aan ʼn hartseer tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Daaruit blyk haar besonder sterk karakter, haar deursettingsvermoë en deernis met alle mense van die land. In 1905 kruis haar paaie met dié van Emily Hobhouse en deur haar word sy geïnspireer om verder te studeer. In 1916 slaag sy haar eksamens in chirurgie en geneeskunde en later spesialiseer sy in ginekologie aan die Universiteit van Amsterdam.

In 1942 begin Van Heerden in die Vrystaat naby Harrismith boer en besit later verskeie plase. Sy skryf uitgebreid oor haar boerdery en word ook deur Rykie van Reenen as formidabele vroue-boer geag. Rosa Keet onthou Van Heerden en haar lewensmaat se besoeke aan haar ouers, die digter A.D. Keet en Rina op Senekal. Sy was volgens Reinet Kemp, N.P. van Wyk Louw se dogter, ook soms by haar ouers aan huis.

J.C. Kannemeyer, Rykie van Reenen, Ernst van Heerden, Hennie Aucamp en M.E.R. is van die gesiene literatore wat Petronella van Heerden se werk hoog aanslaan. Johann Lodewyk Marais se deeglike studie oor hierdie historiese figuur sal hopelik daartoe bydra dat meer studies oor hierdie belangrike figuur uit die vroeë Afrikaanse geskiedenis onderneem word. Sy was ʼn vrye gees wie se waardes nie deur politieke korrektheid of bekrompe sosiale standaarde bepaal is nie, maar deur haar eie vrye denke.

ʼn Boek wat onderhoudend geskryf is en wyd gelees behoort te word.

© Marlies Taljard     

Titel: Fair to bloody: ‘n Blik op dr. Petronella van Heerden (1887 – 1975)
Outeur: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Imprimatur, 2024

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Fair to bloody: ’n Blik op dr. Petronella van Heerden (1887 – 1975)”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top