Die Boekboetiek

Doodgewoon mevrou Smit

Dit lyk asof Fransesca Schmidt, alias Tessa Smit, soos sy op die dorpie Aronspoort bekendstaan, uiteindelik haar lewe as die vrou van ’n skatryk Kaapse bendebaas agter haar gelaat het. Sy staan op trou met die plaaslike geneesheer, Tomas. Helaas hou die huwelik nie eens 24 uur nie, want Tessa word weer met haar verlede gekonfronteer en wil Tomas beskerm. Sy steel die huweliksertifikaat en raak weer eens by ’n moord betrokke.

.Lees meer in die beskrywing hieronder…

Lesers sal mevrou Smit onthou uit Elizabeth Wasserman se eerste drie boeke in die reeks, “Die fantastiese mevrou Smit”, “Die nege lewens van mevrou Smit” en “Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag”. Dit is steeds dieselfde mevrou Smit wat haarself met haar troetelystervark telkens in situasies bevind wat enersyds lagwekkend, maar andersyds onbenydenswaardig en selfs lewensgevaarlik is.

Die kruising tussen die speurroman en humoristiese fiksie (knuskrimi) is in Amerikaanse letterkunde baie gewild, maar werk ook in Afrikaans, hier in die Mevrou Smit-reeks. Wasserman skryf onderhoudend in goeie Afrikaans wat gemaklik lees. Ofskoon mevrou Smit eintlik ’n strereotiepe karakter is, kon ek as leser met haar identifiseer omdat sy so diep menslik en feilbaar is. Wat goed bedoel word, eindig dikwels in rampsaligheid en wanneer dinge op hulle spannendste is, slaan die humor mens soms soos ’n nat vis voor die voorkop. Aan verrassings is daar geen einde nie.

Doodgewoon mevrou Smit is ’n diep menslike roman waarin hiperbool en oordrywing ’n belangrike karakteriserende funksie vervul deur ’n karakter se eienskappe, emosies en motiewe te vergroot én natuurlik om humor en satire te skep.

Ook ironie speel ’n belangrike rol in hierdie roman. Die titel self is al ironies: Hoewel mevrou Smit graag doodgewoon wil wees en tussen mense wil wegraak, kry sy dit nooit reg nie. Mevrou Smit se awergse, selfs “stekelrige” persoonlikheid word deur die ystervark uitgebeeld, maar ook hier is die uiterlike nie ’n ware beeld van haar sagte innerlike nie. Uiteindelik is sy ’n komplekse karakter: ’n amateur-speurder wat ongenaakbaar en onverbiddelik kan optree wanneer die situasie daarvoor vra; ’n plattelandse “tannie” wat rykdom en die ultra-luukse lewe ken, maar net haarself wil wees op ’n plek waar sy doodgewoon mevrou Smit kan wees en soggens in die tuisnywerheid kan tee drink. Soos elkeen van ons, wil sy aanvaar word, veral deur die man wat sy liefhet en wat haar hart vermurwe.

© Marlies Taljard

Titel: Doodgewoon mevrou Smit

Outeur: Elizabeth Wasserman

Uitgewer: Penguin, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Doodgewoon mevrou Smit”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top