Die Boekboetiek

Doller as kopaf

Diegene wat William Oosthuizen se radiodramas op RSG geniet het (Doller as kopaf en Daar’s iets omtrent Daisy) sal beslis ook hou van hierdie komiese verwerking van dié dramas as kort fiksie.

.Lees meer in die beskrywing hieronder…

As jy gedink het ʼn ouetehuis is ʼn vervelige plek, kan jy gerus maar weer dink. Doller as kopaf het my laat lê soos ek lag en (ek moet toegee) soms laat bloos. Wanneer Freek as alleenloper besluit om vir hom ʼn prikkelpop te koop en dié lewensgetroue nommertjie self moet aanmekaarsit – bedrading en al! – het hy Dawid en Hardus se volle aandag en haal hy homself die gramskap van Mara, Dawid se wederhelfte, op die hals. Die nuus versprei vinnig en het later die hele ouetehuis op horings en in kampe verdeel. Mara probeer haar bes om die kompleksreëls sodanig te laat wysig dat sulke seksspeletjies onwettig verklaar word, maar inmiddels kom die wulpse Daisy (met voorbedagte rade en wel wetend wie die rykste oujongkêrel in die kompleks is) die manne se temperatuur verder opjaag. Intussen word die pop onder leiding van Mara gesaboteer. Asof dit nie genoeg is nie, besluit die inwoners om deel te neem aan ʼn kaalfoto-wedstryd as fondsinsameling vir minder bevoorregtes. Presies hoe daar geposeer moet word, wat alles toelaatbaar en sigbaar is en (veral) nié toelaatbaar of sigbaar is nie, is weereens ʼn verdelende faktor waaroor daar lank gedebatteer word. Maar voordat die stoute foto geneem kan word en terwyl die hele ouetehuis poedelkaal aan’t rondskarrel is, kom die ouderdom ʼn spanner in die wiel gooi … en eindig die verhaal met egte Schadenfreude.

Soms bokant die belt, soms onder, maar steeds heerlik en baie snaaks! Oosthuizen is ʼn kundige verteller wat op die man af vertel sonder om ʼn grap “verby die einde” te voer. Die humor is geslaagd, veral weens die skrywer se fyn aanvoeling vir balans en tydsberekening sonder om die vloei van die verhaal te ontwrig.

Die kort hoofstukke het die aard van ʼn sitcom – elk met sy eie uiteensetting, hoogtepunt en aansluiting by die volgende hoofstuk. Soos in die sitcom gebruiklik is, is karakters meestal stereotiep, hoewel hulle hier binne perke geloofwaardig optree.

In tye waarin die nuus meestal neerslagtig is, die ekonomie druk en dienslewering mens moedeloos maak, is hierdie nét die regte terapie vir almal wat ʼn ongekompliseerde storie voor slaaptyd wil geniet en net ‘n slag lekker bevrydend wil lag.

© Marlies Taljard

Titel: Doller as kopaf

Outeur: William Oosthuizen

Uitgewer: Naledi, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Doller as kopaf”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top