Eiva Richter verstuit haar enkel by ‘n troue en leer die fisioterapeut, Clark Kensington, ken. Dat hierdie held dodelik aantreklik is, is nie te versmaai nie. Maar Clark maak dit vinnig duidelik: Hy maak nie beloftes nie, want beloftes is daar om gebreek te word.
Intussen begin Franco, Eiva se jarelange vertroueling en vriend, by haar vlerk te sleep. Sy oorweeg dit om ‘n vaste verhouding met Franco aan te knoop, maar dit is Clark se aanraking wat haar laat smag na meer.
Wat Eiva egter nie weet nie, is dat Clark talle sielkundige letsels dra ná sy ouers se egskeiding en sy ma se verdwyning. Eiva self dra swaar aan die bagasie van ‘n vorige verhouding – Werner was ‘n narsis; net ingestel op homself, en om dinge te vererger, het hy haar afgekraak en vertel dat sy koud in die bed is.
Dan is daar Ouboet Erik, wat Eiva met woord en daad teen mans, wat haar (wil) seermaak, beskerm. Eiva weet van die begin af dat Clark net ‘n romantiese droom is, een sonder commitment. Of is sy verkeerd?
Hierdie Stoom-romanse verloop soos ‘n erotiese fantasie; die verhaallyn is aanvanklik staties, met ‘n amper hipnotiese kwaliteit: die omhelsings en slaapkamertonele word in detail beskryf.
Clark het van meet af belowe dat hy Eiva altyd sal vang, maar presies hoeveel dimensies daar in die woord “vang” is, sal die leser nog uitvind. Een aand drink Franco te veel en sy ware kleure begin te wys. Eers teen die einde van die romanse tel kry die verhaal momentum – met die skokkende ontknoping: Eiva word aangerand.
Sy sukkel nog met haar enkel; sy het ‘n opgehewe oog en gesig, en haar hart is flenters. Eers op moedverloor se vlakte en wreed ontnugter deur mans, breek die lig deur. Het sy Clark verkeerd opgesom? Hy het dit immers duidelik gemaak dat hy nie ‘n bakleier is nie. Is hy ‘n lafaard of ‘n gentleman? Of ‘n gentleman, wat moet leer wat dit beteken om vir ‘n vrou te baklei?
Dis ‘n belofte! is ‘n sensuele, dog eg menslike liefdesverhaal wat die leser weer laat glo in tweede kanse, in die rimpeleffek van sielkundige verwonding – maar dat die liefde inderdaad die kuur vir die oënskynlik onmoontlike is. ‘n Rustige, maar smeulende romanse, ideaal vir ‘n Sondagmiddag- of laat-aandlees voor jy die bedliggie afskakel.
© Nini Bennett-Moll
Titel: Dis ‘n belofte!
Outeur: Zia Lee
Uitgewer: LAPA, 2026


Reviews
There are no reviews yet.