Die Boekboetiek

,

Die vrywilligers

Die vrywilligers, Malene Breytenbach se lofryke jongste roman, is eerstens ’n liefdesverhaal, maar insgelyks ook ’n vernuftige historiese roman met ’n Christelike karakter sonder om ooit dweperig te raak.

Lees meer in die beskrywing hier onder…

Met die aanvang van die Anglo-Boereoorlog besluit Robert Campbell, ’n dokter in Pretoria, en sy aptekersvriend, Thomas Fraser, om ’n ambulans na die gevegsfront te stuur. Campbell se dogter, Eleanor, saam met Thomas se dogter, Mary, en hul buurvrou, Martha, sluit aan as verpleegsters. Dokter Campbell se seun, Rory, onderbreek sy mediese studies in Skotland om by die oorlogsambulans aan te sluit. Op pad na Pretoria ontmoet hy drie Russe wat as vrywilligers aan die Boerekant gaan veg, insluitend luitenant Ivan Mikhailov van Sint Petersburg. Soos die oorlog groei en baie gewondes in Eleanor se sorg kom, begin haar geloof te wankel met al die gruwels van die oorlog, die geweld en die pyn: Hoe kan God soveel lyding toelaat? Wanneer Ivan in die Slag van Elandslaagte gewond word, versorg Eleanor hom. Gedurende hierdie tyd raak hulle verlief, maar hulle besef gou dat daar te veel struikelblokke tussen hulle liefde staan. Tydens die onrus van die oorlog word Eleanor mislei en sy glo dat Ivan gesterf het. Ná die oorlog bly Eleanor ongetroud en help sy haar moeder as vroedvrou in haar praktyk. Maar in 1919 verskyn Ivan weer …

Breytenbach is by uitstek ’n kenner van geskiedenis en van die Anglo-Boereoorlog, en huiwer nie om historiese kritiek te lewer nie. Byvoorbeeld: Die ZAR was nie naastenby toegerus vir die oorlog nie, nie met wapens, hospitale of mediese voorrade nie. Logistieke probleme, op alle vlakke, was van die begin af ’n uitdaging vir die Boere.

Breytenbach skryf met deernis oor al die karakters, want in ’n oorlog is álmal slagoffers, ongeag aan watter kant jy veg.

’n Gerespekteerde en geliefde protagonis sterf, maar die oorlog gaan aan, met ondenkbare geweld, spanning, voorrade wat opraak en verlies aan menselewens. Die skrywer berig realisties oor die gewonde soldate wat bly instroom – en sy draai nie doekies om oor hoe wreed en ontwrigtend die Boereoorlog was nie. Geen versuikerde tonele hiér nie.

Die skrywer noem elders dat mense hulle ware kleure tydens ’n oorlog wys. Wat as jou beste vriendin ’n verraaier is? As eens geliefde huisvriende se eweneens verraderlike optrede uiteindelik rugbaar word? En as leuens, waninformasie en spioenasie ’n onverwagse kinkel aan die verhaalgebeure gee?

Ek het al voorheen van Breytenbach se romanses met ’n historiese konteks soos die Anglo-Boereoorlog gelees, maar met dié roman oortref sy haarself; in haar hele ruim oeuvre is dit een van haar bestes nóg. Dis ‘n roman wat resoneer met ’n wye lesersgehoor.

In die erkenning agter in die roman meld die skrywer dat sy geïnspireer is deur A Russian on commando: the Boer War experiences of Yevgeny Avgustus, geskryf deur Boris Gorelik. Die Anglo-Boereoorlog as historiese narratief word verruim in Breytenbach se werk deur die fiksionalisering van Russiese vrywilligers wat aan die kant van die Boere geveg het.

Plaas hierdie roman op jou wenslysie of bucket list; bestel dit; lees – jy gaan nié spyt wees nie.

© Nini Bennett-Moll

Titel: Die vrywilligers

Outeur: Malene Breytenbach

Uitgewer: LAPA (LUCA), 2026

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die vrywilligers”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top