Leon van Nierop is ’n geliefde skrywer, TV-aanbieder, filmkritikus, regisseur, rolprentnavorser, vervaardiger, radio-omroeper, rubriekskrywer en dosent. Hy is reeds vir meer as 50 jaar werksaam in die boek- en filmbedryf.
Die protagonis, Madelein Blignaut, ’n forensiese patoloog, besluit om te ontvlug van al die dood wat sy in haar loopbaan moet aanskou. Sy besluit om met vakansie te gaan op die luukse passasierskip, die Leonardo, wat deur die verre Ooste vaar.
Op die skip ontmoet sy ’n klomp interessante Suid-Afrikaners, onder meer die komponis, Tibor Lindeque en die aantreklike kulkunstenaar, Helmut Coleman, op wie sy verlief raak.
Na ’n klomp moorde op Okinawa en op die skip self, raak dit duidelik dat die klomp Suid-Afrikaners se verhoudings met mekaar alles behalwe onskuldig is. Die patoloog in Madelein skop weer in, en sy en Helmut begin om ’n ingewikkelde netwerk van jaloesie, verraad en verborge agendas te ontbloot.
Die volmaakte moord herinner aan Agatha Christie se bekende Hercule Poirot-reeks. Van Nierop posisioneer sy karakters binne die beperkte ruimte van die Leonardo – waar die moordraaisel afspeel: die spanning en intrige word verhoog deur dié ingeslote omgewing. Dit is die perfekte agtergrond vir ’n komplekse plot.
Die web van leidrade en motiewe, met ’n diverse groep passasiers wat élkeen verdag lyk, sorg vir naelbyt-oomblikke. En die kewellende vraag: is ’n volmaakte, of perfekte moord, moontlik? Ek het as kriminologie-student geleer dat alle moordenaars foute maak: dit is slegs slordige polisiewerk en nalatigheid wat maak dat moordenaars wegkom. Of só het ek gedink…
Liefde en romanse bly nie agterweë in die roman nie. Die skip word ook ’n karakter in eie reg as sy deur stormwaters vaar, wat die drama en spanning van die verhaallyn verhoog.
Deur die gebruik van misleiding en verrassing skep Van Nierop nóg ’n moordverhaal wat jou tot op die laaste bladsy sal boei. En nee: ’n leser kan nie vooruit reg “raai” wie die moordenaar is nie…
© Nini Bennett-Moll
Titel: Die volmaakte moord
Outeur: Leon van Nierop
Uitgewer: Penguin Random House Suid-Africa, 2025


Reviews
There are no reviews yet.