Die Boekboetiek

,

Die uitvaart

As literêre kritikus skryf ek dikwels teoreties en afstandelik oor lewe en dood. Mens sien die tema lewe-dood in ’n digter se werk of in ’n kortverhaal of selfs in ’n kinderverhaal.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

 

Carla van der Spuy se boek Die uitvaart gaan egter heel konkreet met die lewe-dood tema om. Sy het gegaan en met mense gesels wat daagliks met die dood gekonfronteer word in ’n poging om die proses van sterf vir die leser duideliker en meer aanvaarbaar te maak.

Baie mense is bang vir die dood of vir die liggame van gestorwenes, selfs vir spoke en natuurlik wil ons nie dink aan ons eie dood nie. Van der Spuy gaan egter van de standpunt uit dat sy lesers se vrees vir die dood en alles wat daarmee verband hou, kan besweer deur feitelike inligting aan te bied.

Sy gesels met ’n forensiese patoloog en een van die bekendste anatomiekenners in die land – mediese speurders as’t ware. Hulle vertel oor anatomiese prosesse wat na die dood in die liggaam plaasvind, hoe die patoloog afleidings maak oor die oorsaak van dood, hoe kadawers voorberei word vir gebruik deur mediese studente en hoe die liggaam na die dood ontbind en gepreserveer kan word.

Daarna besoek sy ’n vooraanstaande begrafnisondernemer en gesels oor die voorbereiding van liggame vir begrafnis. Hoe lyk dit in ’n lykshuis? Hoe word ’n liggaam versorg nadat dit by hulle aankom? Hoe gaan mens te werk met ’n erg verminkte liggaam en wat gebeur alles voor, tydens en na die begrafnis, hoe word ’n liggaam gebalsem, ’n opgrawing hanteer? Baie interessant is gangsterbegrafnisse en die rites wat in verskillende sosiale kringe of geloofsrigtings gevolg word. In alle gevalle spreek sowel die patroloë as die begrafnisondernemers en ander rolspelers se omgang met liggame altyd van respek vir die gestorwene en die agtergeblewenes.

In verdere hoofstukke praat predikante oor hulle belewenisse by sterfbeddens en tydens begrafnisse, susters wat kankerlyers en -sterwendes bystaan, word die verskil tussen genadedood en geassisteerde dood uiteengesit en word begraafplase as marginale en dikwels gevaarlike ruimtes belig.

Ek het hierdie boek insiggewend gevind weens die skrywer se nugtere omgang met ’n baie sensitiewe onderwerp wat dikwels verswyg of geproblematiseer word. Sonder om die onderwerp in die minste opspraakwekkend, grusaam of vreesaanjaend te maak, word geskryf oor feite waaroor ons almal soms wonder en word die dood as die normaalste aspek van die lewe behandel. Hiervoor moet mens die skrywer gelukwens. Van der Spuy skryf besonder onderhoudend in suiwer en korrekte Afrikaans. Die boek is tegnies pragtig versorg en smaakvol uitgegee. Koop dit gerus as jy vrae het wat jy nie gemaklik is om in geselskap te opper nie en as baie interessante leesstof.

© Marlies Taljard

Titel: Die uitvaart

Outeur: Carla van de Spuy

Uitgewer: Protea Boekhuis, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die uitvaart”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top