Die Boekboetiek

Die Platberg van Harrismith: ʼn Geskiedenis

Die geskiedenis van ‘n berg.

Johann Lodewyk Marais het in die distrik Harrismith grootgeword en het van kleinsaf in alle aspekte van sy omgewing belanggestel. Daarom is hy een van die persone wat die beste oor hierdie streek, sy mense, landskappe en natuurlewe kan skryf. Die skryf van kleingeskiedenisse of streekgeskiedenisse is ʼn belangrike wyse om die opgetekende geskiedenis aan te vul en die klem te laat val op die wel en wee van gemeenskappe – en in hierdie geval ook ʼn landstreek waarbinne die Platberg ʼn belangrike baken is.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Die Platberg van Harrismith is alles behalwe ʼn droë geografieboek. Inteendeel, die skrywer integreer allerhande interessante stories, gebeurtenisse en feite in sy vertelling, sodat die leser gefassineerd verder lees. Die weer en die klimaat het byvoorbeeld ʼn geweldige impak op inwoners en besoekers van die streek (gehad). Dit kan skielik begin sneeu, of die sterk winde rondom die berge kan vliegtuie in gevaar stel. Een hoofstuk handel trouens oor vliegtuigongelukke in die berge rondom Harrismith. Watervalle, grotte en passe word op luisterryke wyse beskryf, maar ook hoe die beroemde bergwedloop (een van die langstes ter wêreld) fisieke eise aan atlete stel en hardlopers deur ʼn unieke ekostelsel neem. Marais se beskrywing van die unieke plante van die berg sal plantversamelaars interesseer. Die opkoms en ineenstorting van die botaniese tuin is ʼn voorbeeld van ʼn gemeenskapsprojek wat deur nuwe maghebbers met vernietigende gevolge gekaap is. Die Platberg is natuurlik die sentrale fokus van die boek, en Marais stel nie teleur in sy aanbieding nie. Hy neem ons honderde miljoene jare terug na die ontstaan van ons blou planeet en die verskillende stadia waarin die berge rondom die huidige Harrismith, die Drakensberge en die berge rondom Clarens ontstaan het en gevorm is. En glo my, geografie kan fassinerend wees! Die skrywer slaag daarin om die berglandskap rondom Harrismith in alle moontlike fasette tot lewe op te roep.

Omdat die Platberg nie ʼn berg op sy eie is nie, maar in ʼn hele uitgebreide landskap ingebed is, is dit belangrik dat die berg binne ʼn baie wyer geografiese, geskiedkundige, eko-, sosiale en kulturele konteks geplaas word. Die skrywer plaas die mens en sy aktiwiteite wat met dié berg en ander berge naby Harrismith verband hou, in die middelpunt van sy vertelling. Fasette van die koloniale era, die pionierslewe en multikulturalisme word so vertel dat dit maklik deur lesers begryp kan word. Die groot aantal foto’s dra daartoe by dat die leser ook ʼn visuele beeld kan vorm van die landstreek waaroor die skrywer so entoesiasties skryf.

Johann Lodewyk Marais is, benewens ʼn historikus, ook ʼn bekroonde digter. Sy vertelstyl is gemaklik, eenvoudig, maar eksak. Hoewel hierdie boek ʼn belangrike bydrae is tot die Suid- Afrikaanse geskiedskrywing, is dit ook ʼn verhaal wat enduit bekoor. Dit is pragtig uitgegee op duursame papier en is keurig afgewerk. Ek het my verstom aan die geweldige hoeveelheid feite (ook oënskynlike nietighede wat die menslikheid van karakters openbaar) wat sonder dat dit steur, in die vertelling ingevleg is. ʼn Stewige bronnelys en eindnote is eweneens deel van die publikasie vir diegene wat meer wil weet of verdere navorsing wil doen.

Die Platberg van Harrismith sal ʼn waardige toevoeging tot jou boekrak wees!

© Marlies Taljard     

Titel: Die Platberg van Harrismith: ʼn Geskiedenis
Outeur: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Imprimatur, 2021

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die Platberg van Harrismith: ʼn Geskiedenis”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top