Die Boekboetiek

Die moord op Liezel de Jager

Hulde aan geliefde dominee

Vier jaar na die wreedaardige moord op ds. Liezel de Jager in Amanzimtoti vat haar vriendin Anena Burger die gebeure op 13 Oktober 2021, die aanleiding tot die moord en die spanningsvolle tyd wat daarop volg, in haar boek Die moord op Liezel de Jager (LAPA) saam.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Burger is ʼn professionele joernalis én was ook ʼn intieme vriend van ds. Liezel toe sy nog op Kanoneiland in die Noordkaap predikant was. Sy beantwoord in hierdie boek baie van die vrae wat steeds huiwer rondom dié grusame moord. Maar, al skrywend aan die feite rondom die moord, kom daar ʼn lewensverhaal van ʼn opgewekte, blymoedige en sterk geestelike leier uit die verf, ʼn vrou wat op jeugdige ouderdom sterf aan die hand van haar eie man, Werner. Ook die donker kant van die verhaal word ontbloot: die huweliksprobleme, Werner se depressie, sy selfmoordpogings en sy gewoonte om te verdwyn wanneer sake warm raak vir hom. Die kant van Liezel se ouers en haar twee klein dogtertjies word met respek en deernis behandel en slegs die noodsaaklike feite word geopenbaar om hulle privaatheid te beskerm. Oor elke hofverskyning van Werner word volledig en feitelik berig.

Ten spyte van die gruwelike aard van die gebeure in 2021 spreek diepe respek vir Liezel ten alle tye uit die vertelling. Werner word nie verdemoniseer nie. Klem word wel gelê op sy gesondheidsprobleme, maar die blaam word nie verskuif nie – hy is die moordenaar! Op geen stadium word hierdie verhaal aangedik, oordryf of as sensasie aangebied nie. Daarvoor moet mens die skrywer volle krediet gee.

Anena Burger skryf toeganklik, helder, op die man af en boeiend. Haar taalgebruik is suiwer, gestroop van emosionele oordrywing, sensasie en hoorsê. Feite wat sy uit ander bronne verkry het, word verantwoord en mense met wie sy in gesprek was, word by die naam genoem. Burger se joernalistieke skryfstyl verseker dat die boek maklik lees, veral omdat sy haar hoofstukke kort hou en slegs een saak per hoofstuk bespreek. Wat my die meeste beïndruk, is die integriteit waarmee sy haar stof behandel, haar respek vir elke persoon wat as karakter optree en vir die feite van die saak. Uiteindelik is hierdie wrede moord nou opgelos, die feite is op die tafel en dit is die ideale tyd om die storie te vertel. My gelukwensing aan Burger vir die stylvolle manier waarop sy haar verhaal aanbied. Ek beveel die boek met vrymoedigheid aan – daar is geen deel waaroor ek “nie vir sensitiewe lesers” sou skryf nie!

© Marlies Taljard

Titel: Die moord op Liezel de Jager
Outeur: Anena Burger
Uitgewer: LAPA 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die moord op Liezel de Jager”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top