Die Boekboetiek

,

Die miere maak amok

Hierdie kinderboek, afgestem op kinders tussen die ouderdom en 7-9 jaar, is ’n ware juweel.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Oor die skrywer verneem ons die volgende:

Elana Barker het drama studeer en was vir elf jaar in die onderwys, waar sy ’n diep liefde vir stories en kinders ontwikkel het. Sy is lief vir lees en skryf en glo dat die krag van woorde harte aanraak en wêrelde oopmaak.

Een van Elana se twee seuns het disleksie en ADHD. Hy was die inspirasie agter hierdie boek — ’n storie wat hoop bring, andersheid vier en elke kind herinner dat hulle presies reg is soos hulle is.

En met elke kinderboek is die illustreerder ook van kardinale belang:

Tagen Koekemoer woon in ’n sonnige kusdorp en geniet ’n aktiewe, avontuurlike lewe omring deur die natuur en diere. Sy is lief vir teken, kunsvlyt en skep, en bring daardie passie na elkeen van haar illustrasies. Die miere maak amok is haar eerste kinderboekprojek, en haar grootste droom is om deur haar kuns vreugde en verbeelding by jong lesers te wek.

Dié verhaal kon nie tydig genoeg gearriveer het nie. In ’n tydgleuf waarin ons dikwels van kinders met neorodiversiteit verneem, is ook jeuglektuur nodig om die stigma van ADHD en disleksie te destigmatiseer.

Die hoofkarakter, Jan sukkel om te lees, want die letters wil nie stilstaan nie. Wanneer hy probeer lees, spring die letters op die bladsy rond soos ’n klomp miere wat amok maak – en dis presies hoe die boek dit vir die leser voel: lewendig, soms chaoties, maar sonder om sleg om skaam oor sy kondisies te voel. Want dis nie ‘verkeerd’ nie, net anders. Jan moet ’n toets skryf en is bang. Die seun en sy hond, Hennie oorweeg dit om te kroek, al voel hulle baie sleg daaroor. Maar dan maak Hennie gelukkig ’n briljante plan.

Volgens die spraakterapeur, Michelle McDonald, verneem die leser op die agterflap dat disleksie nie beteken nie dat ’n leerder dom of lui is nie, maar eerder dat hulle brein op ’n ander en meer kreatiewe manier moet leer om te lees en spel. Kinders met disleksie sien die woorde op ’n bladsy net ’n bietjie anders – die letters wil nie altyd stilstaan terwyl hulle lees nie. Party letters spring rond, ander draai onderstebo en soms lyk dit of daar ’n klomp stoute miere is wat met die woorde speel.

Wat die storie so spesiaal maak, is Jan se hond Hennie. Hennie is nie net ’n troeteldier nie – hy is slim, lojaal en help Jan op wyses wat warm en geloofwaardig voel. Saam vind hulle ’n manier om die “miere” te tem, en die boodskap is duidelik, sonder om ooit pedanties te word: jy is nie ‘fout’ as jou brein anders werk nie. Jy het net soms ’n goeie vriend (of hond) nodig om jou te help.

Tagen Koekemoer se illustrasies is suiwer genot. Die letters wat rondspring, die miere wat amok maak, en Hennie se uitdrukkings is vol lewe en humor. Die grafika voel nie of dit dekoratief is nie – dit is deel van die storie en help kinders (veral dié wat self sukkel met lees) om die ervaring te “sien” en te begryp.

Dit is ’n boek wat ouers, onderwysers en kinders met ope arms sal verwelkom. Dit praat met respek oor ADHD en disleksie, gee kinders ’n held waarin hulle hulself kan herken, en laat almal glimlag, met ’n bietjie meer begrip.

Sterk aan te beveel vir die boekrak – ’n boek wat jy meer as een keer sal wil lees of bloot verwonderd die storie deur die prente ‘volg’.

© Nini Bennett-Moll

Titel: Die miere maak amok

Skrywer: Elana Barker / illustreerder: Tagen Koekemoer

Uitgewer: Naledi, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die miere maak amok”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top