Die melkweg en die miskruier is ‘n roman waarin verskeie relevante temas betrek word.
Die hoofkarakter, Sabine, keer terug na hul voormalige huis ‘n dekade nadat haar man wreed vermoor is op hul plaas in die Laeveld. Die plaas is intussen verkoop. Sy besef nie dat dit tans onder swart eienaarskap is en as ‘n wildplaas bedryf word nie. Omdat sy baie dierbare herinneringe aan die plaas het, wil sy dit graag weer besoek, maar Covid breek uit en binne 2 dae sal die inperking geld. Sy word van alle kante ontmoedig om die plaas te probeer besoek, veral omdat mense die persepsie het dat die eienaars onvriendelik en selfs gevaarlik is. Ten spyte daarvan gaan Sabine en vind die teenoorgestelde: die vrou wat haar ontvang, is vriendelik en begrypend en laat haar toe om al die plekke te besoek wat sy wou besoek, asook om ongehinderd in die huis rond te loop.
Die probleem lê daarin dat Sabine op die plaas grootgeword het en dat die familie, wat vir etlike generasies daar gewoon het, baie trots is op die feit dat hul voorouers die plaas van hul oupagrootjie, Paul Kruger, destydse president van die Transvaalse Republiek, geërf het. Sy betreur die feit dat die plaas uit die familie se hande gekom het.
Intussen ontmoet Sabine ‘n nuwe minnaar wat haar help om die geskiedenis van die plaas na te spoor. Dit blyk dan dat die grond eintlik aan die Modjadji-koninginne en Kgosi Makgobo behoort het en deur Kruger onteien is. Verder blyk dit dat die plaas wat Sabine as hul familiegrond beskou het, eintlik ‘n okkupasieplaas was. Dus, nie gekoop nie, maar deur Kruger aan een van sy familielede gegee. Met verloop van tyd het die herinnering vervaag en Sabine se familie het die plaas as hul wettige eiendom aanvaar.
Die enigste beswaar wat ek teen die boek het, is dat die historiese data soms die vloei van die storie belemmer en die lees bemoeilik.
Hierdie historiese roman ondermyn verskeie gevestigde narratiewe. In die eerste plek weerspreek dit die aanname dat wit en swart mekaar se vyande in hierdie land is. Tweedens ondermyn dit die narratief van die goeie President Kruger. Hy het immers, net soos moderne heersers, homself en sy vriende bevoordeel deur staatseiendom sonder vergoeding te versprei en te beset. Laastens bevraagteken hierdie roman ook die Afrikaner se liefde vir die grond wat hulle as hul eie beskou. Dit is baie duidelik uit die verhaal dat grond nie aan enigiemand kan behoort nie, dat dit deur verskillende mense in verskillende historiese tydperke bewoon en toegeëien is. Deur aannames te bevraagteken wat rassespanning in ons land kan veroorsaak, skryf die outeur in teen gesanksioneerde weergawes van die geskiedenis en van grondbesit. In haar verhaal beklemtoon sy die gedeelde menslike waardes van alle kulturele groepe in ons land. Hierdie roman lewer ‘n enorme bydrae tot beter begrip tussen alle mense van die land en ondermyn vooropgestelde aannames oor mekaar en mekaar se kultuur en menslikheid.
@Marlies Taljard
Outeur: Jeannette Ferreira
Outeur: Die melkweg en die miskruier
Uitgewer: Tafelberg, 2023
Sagteband, 288pp.
ISBN: 9780624094630.


Reviews
There are no reviews yet.