En so het Louisa haar ideale trouman af-, en ingewag. Maar nee, die liefde werk nie so nie.
Nadat sy die nuwe adjunkhoof by haar skool, Bernard Rossouw ontmoet het, het sy hom dadelik as ‘vaal’ afgemaak. Haar drie redenaars-sterre moet naby De Aar deelneem aan ‘n kompetisie, en Louisa maak ‘n plan deur beskuitjiefudge te maak en só die ouers se voornemende reis- en verblyf-kostes vir hulle kinders te dek.
Daar is die geheimsinnige plaas waar die leerders in die bussie aandoen – maar dit is Bernard se familieplaas, en uiteraard is Louisa se verbasing en verwondering groot. Maar – die lysieman bly by haar spook.
Ten spyte van haar woonstelmaat en vriendin, Delanie se kritiek oor haar voorgenome lysieman – en dat die liefde hom nie laat voorskryf nie – bly Louisa glo aan die misterie van die lysieman.
Dié Romanza is deurspek van fiktiewe verhale, byvoorbeeld Tolkien se bekende stories asook sprokies, want as antidoot tot Louisa se rigiede veronderstelling tot haar lysieman staan. Hoe antipiseer ‘n vrou liefde – veral as sy vir jare gebid het vir ‘die’ regte man?
Vincent, wat aan haar lysie-vereistes voldoen, daag op ná ‘n aanlyn ontmoeting, maar soos karma wil hê, is sy, op haar beurt, weer nie die regte deelgenoot vir hóm nie.
En haar vriendin, Delanie – hoe op dees aarde het Bernard, vir wie sy iets voel, sy aandag op haar bestie gevestig?
Die lysie-man bied ‘n intieme en insiggewende blik op die rol van die onderwys in hedendaagse SA. En as enige iemand durf dink dat die beroep van ‘n onnie, of onderhoof, is vervelig, dink weer.
Louisa se reis na haar “lysie-man” sorg vir heelwat opwinding, romanse en verrassings. Die lewe is nie iets wat jy vooruit kan beplan of programmeer nie – dis die taal van die hart, wat sy eie wending kies.
Die lysie-man is ‘n rustige Romanza. Dit is een van daardie romanses wat jy lees om te ontspan voor slaaptyd – en ja, die liefde, pasgemaak vir die verliefdes in hierdie verhaal neem uiteindelik sy eie gang. Soos dit moet.
En Bernard – wat het in sy lewe gebeur dat hy so skugter is om ‘n dame uit te neem?
As jy nie hou van eksplisiete erotika nie, is dié boek vir jou. Ouwêreldse hofmakery en liefde gee die pas aan in Swanepoel se jongste.
Ontspan en geniet – want tussen The Hobbit en ander sprokies mag jou vooropgestelde idees van ‘n geliefde dalk net in die niet verdwyn…
© Nini Bennett-Moll
Titel: Die lysie-man
Outeur: Salma Swanepoel
Uitgewer: LAPA Uitgewers


Reviews
There are no reviews yet.