Die Boekboetiek

Die geheime van effektiewe gebed

Jy voel dalk asof jou gebede deur die wind weggewaai word of teen die plafon bly vassteek. Dalk bid jy gereeld, maar voel dat die Here nie jou gebede verhoor nie, óf jy voel asof jy dringend by die Here wil uitkom, maar weet nie hoe en waar om te begin nie. Dan het die skrywer van Die geheime van effektiewe gebed die oplossing – nie vanuit ’n welvaartsteologie nie, maar met verwysing na die Bybel.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Lesers van Media24 sal Stephan Joubert as rubriekskrywer ken. Hy is egter ook buitengewone professor aan verskeie universiteite.

In die Inleiding tot sy boek skryf Joubert dat gebed verreweg die gewildste godsdienstige gebruik op aarde is. Mense bid egter op uiteenlopende wyses en alle gebede word nie verhoor nie. Hoe dan gemaak om God se oor te bereik?

Die doel van Joubert se boek is om ons “gebedfiks” te kry. In die eerste hoofstuk van die boek word belangrike boustene van gebed uitgelig – “Verskuif van stereotipes na verwondering”.

Dikwels is gebede op stereotiepe strukture gebou. Joubert moedig die bidder aan om te beweeg van stereotiepe gebed na die tipe gebed waarvan die bloudruk in die “Ons Vader” bestaan. Verwondering (aan God en alles wat Hy gemaak het) is die basis van gebed, en nie ons eie verwonding nie.

In Deel 2 neem die skrywer die leser op ’n gebedsreis deur die boek Habakuk. Dié profeet begin sy teks deur “[los te trek] met growwe gebedsklagtes”:

Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie.

(Habakuk 1:2)

Klink dit dalk soos die Nuwe Suid-Afrika? Voel ons ook soms om die Here wakker te skud en te vra: “Hoekom? Hóékom?” Verskeie kere vra Habakuk direkte vrae. Hoewel God antwoord, is dit nie die antwoorde wat die profeet verwag nie. Wat ons hier leer, is dat God eerlike (maar respekvolle) gebede verkies, maar as ons uitkomsgedrewe bid en direkte antwoorde verwag, word ons teleurgestel. Ons dien God op Sy voorwaardes, en nie op grond van die verhoring al dan nie van ons gebede nie. Opregte gebede het wel groot impak – soos die skrywer aandui, selfs in geslagte ná die bidder. Dit is dus altyd die moeite werd om te wag op God se antwoord – wag maak jou immers stil voor die Here (p. 83, e.v.), selfs “al bot die vyebome nie en al is daar geen beeste meer in die beeskrale nie, want God is steeds daar …” (p. 115).

In Deel 3, “Gebed wat God se oor en hart raak”, gee die skrywer tien riglyne oor hoe om reg te bid. Hy lê klem daarop dat ons nie net kan bid soos en wanneer dit ons pas nie. Ons moet daagliks oefen om te bid volgens die riglyne wat die Bybel neerlê en vra: “Here, leer ons bid” (Lukas 11) (p. 119). Daar is inderdaad gebede wat ’n hemelse “ja” kry (p. 141 e.v.).

Hoofstuk 9 word gewy aan ’n handleiding oor gebed in die vorm van ’n kort Bybelstudie.

Joubert skryf helder en op die man af sonder ingewikkelde teoretiese omhaal van woorde. Sy argumente is suiwer en gebaseer op Bybelse tekste. Sy aanbieding is logies en sinvol gestruktureerd sodat ook leke dit maklik kan verstaan. Die geheime van effektiewe gebed is ’n boek vir almal wat behoefte het om ’n verhouding met ons hemelse Vader op te bou. Dit is bedoel vir mense wat nou eers leer bid én vir diegene wat behoefte het om beter te leer bid.

© Marlies Taljard

Titel: Die geheime van effektiewe gebed

Outeur: Stephan Joubert

Uitgewer: LAPA, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die geheime van effektiewe gebed”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top