Die Boekboetiek

,

Die beste sussie vir ʼn baba-draak

Zeldi wil baie graag nog ʼn boetie of sussie hê, maar dis glad nie in haar ouers se toekomsplanne nie. Wanneer ʼn draak egter ʼn eier op hulle stoep los, begin ʼn groot fantasie-avontuur. Die eier broei uit, en … dis ʼn baba draak! Nou moet Zeldi hom versorg sonder dat haar ouers dit agterkom. Dit raak ʼn groot verantwoordelikheid, maar daar is ook heelwat humoristiese en naelbyt-episodes.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Die boek is pragtig uitgegee op hoë kwaliteit papier en is kleurvol geïllustreer deur Robert Dersley. Die lettertipe is groot genoeg sodat leerders van Graad 4-6 die boek self kan lees. Groterige spasies tussen reëls sorg vir heelwat bladwit en laat die bladuitleg vriendelik vertoon en suggereer selfs emosie. Die boek is in kort hoofstukkies verdeel met titels wat eweneens sorg vir ʼn vriendelike, uitnodigende leeservaring.

Soos ander Fanie Viljoen-boeke is ook hierdie boek gemik op opvoedkundige waarde vir die jong lesersgehoor. Eerstens bevorder die verhaal natuurlik die jong kind se fantasie en moedig kreatiewe denke aan. Deesdae het baie ouers net een kind. Soms voel so ʼn kind natuurlik eensaam en verlang om ʼn boetie of sussie te hê soos ander kinders. Hierdie boek spreek spesifiek die problematiek van die enkelkind aan, sonder om dit ʼn probleem te maak. Die verhaal fokus op maniere om met die werklikheid om te gaan, hetsy dit eensaamheid of iets anders is. ʼn Ander belangrike tema is verantwoordelikheid. Selfs jong kinders kan heelwat verantwoordelikheid dra, soos dit uit hierdie pragtige verhaal blyk.

Fanie Viljoen se Afrikaans is uitsonderlik en by uitnemendheid geskik vir jong lesers. Sy sinne vloei maklik en die woordeskat is enersyds geskik vir die lesersgehoor, maar daag ook jong lesers uit om nuwe woorde, uitdrukkings en sinswendinge aan te leer. Die inhoud en verhaalelemente kom uit die alledaagse huislike situasie met nét genoeg vervreemding om die verbeelding te prikkel.

Die beste sussie vir ʼn baba-draak is die ideale geskenk vir ʼn kind wat al self kan lees, asook vir ʼn addisionele leesboek wat deur skole aangekoop kan word.

© Marlies Taljard

Titel: Die beste sussie vir ʼn baba-draak

Outeur: Fanie Viljoen

Uitgewer: LAPA, 2026

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die beste sussie vir ʼn baba-draak”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top