Om die werk van ’n Nobelpryswenner na Afrikaans te vertaal, is ’n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse vertaalskat. Annie Ernaux het in 2022 die Nobelprys vir Letterkunde verower – en haar Afrikaanse vertaler het onlangs die oorspronklike Franse roman, L’autre fille in Afrikaans uitgegee as Die ander dogter. Naòmi Morgan is ’n bekroonde vertaler van dramas soos Samuel Beckett se Ons wag vir Godot, asook Kuns. Sy is ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat.
Annie Ernaux se roman handel oor ’n kwellende ondersoek na haar geheimsinnige ouer suster wat op sesjarige ouderdom gesterf het, twee jaar voor Annie se geboorte.
In die somer van 1950, toe die verteller (of Ernaux) tien jaar oud was, luister sy toevallig ’n gesprek af en hoor dat sy ’n suster gehad het. Nadat sy geglo het sy is die enigste kind, kom sy te wete dat sy ’n ander dogter vervang het—“die klein heilige,” die afwesige een in elke gesprek wat voortleef in Annie se ouers se woordeloseverdriet.
Die roman word aangebied in die vorm van ’n brief aan die onbekende suster. L’autre fille (Die ander dogter) is in 2011 in Frans gepubliseer as “die brief wat nog nooit geskryf is nie”, geïnspireer deur Kafka se “Brief aan sy vader”.
Die ander dogter is direk uit die Frans vertaal, sonder enige brugtaal wat die vertaler ‘gehelp’ het: die eerste Engelse weergawe van Ernaux se werk verskyn eers September vanjaar, ’n vertaling wat behartig is deur Alison L. Strayer. Dit is ’n sonderlinge prestasie aan die kant van die vertaler en uitgewer, Naledi, om die gesaghebbende Engelse vertaling van ’n Nobelpryswenner as’t ware voor te spring met ’n Afrikaanse vertaling.
Gebore in 1940, het Annie Ernaux in Normandië grootgeword en aan die Rouen- Universiteit studeer. Van 1977 tot 2000 was sy ’n professor by die National Centre for Distance Education. Haar oeuvre beskik oor klassieke kontemporêre status in die Franse letterkunde – en sommige kritici is van mening dat Ernaux die belangrikste Franse skrywer van ons tyd is.
Bekend vir haar meedoënlose verkenning van die mens se geheue, klas en biografiese geskiedenis, skep Ernaux in hierdie roman teks ’n meditasie oor afwesigheid, rou en die onsigbare drade wat gesinsidentiteit en familienarratiewe vorm. Die werk bied beide ’n diep persoonlike en universele besinning oor verlies, identiteit en die daad van skryf self.
Die invalshoek van Die ander dogter is bedrieglik eenvoudig: Ernaux spreek Ginette aan, ’n aanwesige, dog afwesige teenwoordigheid – ’n Ander wie se skaduwee oor Ernaux se begrip van haarself en haar gesin hang. Die teks is minimalisties, soos die taalgebruik, gestroop van onnodige of oordadige sentiment. Dit is prosa wat kristalhelder is en doelbewus ’n helder lens vir selfrefleksie vorm. Ernaux ontleed haar herinneringe met die presisie van ’n chirurg, en lê die wisselwerking tussen persoonlike ervaring en die kollektiewe geskiedenis – én verbeelding – bloot. Die
briefvorm stel Ernaux in staat om haar suster direk aan te spreek, wat op ’n intieme toon wissel tussen die belydenisagtige, en ’n priemende ondersoek. Hierdie direkte aanspreekvorm is nie bloot stilisties nie, maar ’n strukturele noodsaaklikheid wat Ernaux in staat stel om die gaping tussen haarself en die suster, wat slegs as diebuitelyne in ’n gesinsmite bestaan, te oorbrug.
Tematies resoneer Die ander dogter met Ernaux se lewenslange bemoeienis met klas(severskille). Gebore in ’n werkersklasgesin in Normandië, het die skrywer met haar oeuvre dikwels ondersoek ingestel hoe sosiale omstandighede persoonlike narratiewe vorm. Ernaux het dan ook die term, “outo-sosio-biografie” gemunt om haar oeuvre se beskryf.
Sy besin oor hoe haar ouers se stilswye oor Ginette se dood – waarskynlik aan witseerkeel, ’n siekte geassosieer met armoede en beperkte mediese toegang – wat met skaamte bejeën is. Die suster se afwesigheid word die lens waardeur Ernaux haar eie plek in die familie ondersoek: was sy ’n plaasvervanger, ’n voortsetting, of iets heeltemal anders? Hierdie vraag, wat nooit volledig beantwoord word nie, gee die teks ’n stille eksistensiële gravitas.
’n Belangrike tema in Die ander dogter is die konstruksie van die verteller en Ginette se identiteit; en die rekonstruksie, asook die dekonstruksie van beide susters se onderlinge identiteite. Die vorming van identiteit in Die ander dogter geskied deur: Die teks aan te bied as ’n brief; die briefgenre, dus; Ernaux se konsep van “outo- sosio-biografie”; die onrustige pre-WO II-klimaat, en ook die WO II-klimaat in Yvetot, Normandië; die kinders van twee ouers wat deel was van ’n arm werkersklasgemeenskap; die rol van geheue, spesifiek “die geheue van skaamte”, soos die verteller dit stel; en Ginette se identiteit as “heilige”; asook die rol van oorlewingskuld.
Morgan se vertaling vang die diafane skoonheid van Ernaux se Franse teks vas. Uiteindelik lê die krag van die roman in die gefragmenteerde, amper essayistiese struktuur, alhoewel dit aktiewe betrokkenheid van die leser vereis. Die verteller se emosies is rou en gedistilleer. Ernaux probeer nie om die geheim van haar suster se lewe of dood op te los nie; in stede hiervan bied sy ’n ruimte vir nabetragting; meditasie; besinning, wat lesers uitnooi om hul eie afwesighede te konfronteer. Die ander dogter is sonder meer ’n aangrypende elegie vir ’n suster wat slegs in die marges van memorie bestaan, en ons daaraan herinner dat die afwesiges onuitwisbare merke en letsels in ons gemoed laat.
©Nini Bennett-Moll
Titel: Die ander dogter (vert. uit die Frans, L’autre fille deur Annie Ernaux)
Vertaler: Naòmi Morgan
Uitgewer: Naledi Uitgewers


Reviews
There are no reviews yet.